Skatte op die asgat én in die hemel

Dory Dolf Nog een van my gunsteling mensestories wat ek vir  Weslander geskryf het:
 Agter Langebaan se vaal sandbedekte rommelhope is ’n versteekte oase.
Daar brand ’n vuurtjie in die braaikonka waarom ’n verslete bruin sitkamerstel gerangskik is.
Dory Dolf is besig met middagete. Sy trek ’n plastiekkrat nader, gaan sit fyntjies – ’n wafferse dame – en vou haar dun beentjies, nogal ewe in visnetkouse, soos ’n koeksister oor mekaar. Dan hou sy haar klein skurwe handjies oor die hitte van die gloeiende kole. Mens kan sien sy is netjies op haarself. Haar wit bloesie is silwerskoon en lyk amper of dit net ’n paar kort ure gelede onder ’n warm strykyster deur is. “Ons eet nie van die dump af nie,” sê sy. “Ons gaan koop ’n kossie en kom maak dit hiér gaar.”
Sy trek haar krat nader aan die konka sodat sy kan werk. Daar is pap in die swart gebrande pot met die skewe deksel – dalk in ’n vorige lewe ’n spoggerige blink pot in ’n Myburghpark-huis gewees. Langsaan in die vaalgebrande blik begin die koffiewater klein blink borreltjies maak. Die warmwaterfles staan reg. Dory is al ’n groot vrou, soos die volk sal sê. Haar kinders is lankal opgegroei, haar trots. Hulle woon in die Burg, vertel sy en roer die pap met ’n fyn polsbeweging al in die rondte. Vir die helfte van die jaar bly sy hiér op die asgat in die Baan om geld te maak, en as die reënmaande kom gaan sy Vredenburg toe, na haar huis toe. “Maar natuurlik het ek ’n huisie,” sê sy ietwat vererg, maar glimlag darem.
Die plooitjies langs haar koffiekleurige kraalogies verklap haar jare en agter dié sielvolle kraaltjies is iemand met hart, met deernis, intelligensie, selfs ’n tikkie humor. Want oor háár harde lewe moes sy leer om te lag. Die meetsnoere het nog altyd op lieflike plekke vir ánder mense geval en van lugkastele bou weet sy niks. Dis mos iets wat nét die rykes doen.
Maar elke nag as Dory en haar lewensmaat, Ricky, op hulle opteldubbelbed onder die gevlekte duvet inkruip en na die melkweg se wasige spoor oor die oneindige hemelgewelf staar, weet sy die heelal het nie heeltemal van hulle vergeet nie. Dié ashoop is ’n gebed wat verhoor is nadat Ricky sy werk verloor het, want hiér kan hulle ’n lewe uit ander mense se weggooigoed maak.
Swaarkry het hulle geseën met ’n spesiale geskenk, om skatte op dié rommelwoestyn te kan raaksien. ’n Leë koeldrankblikkie, ’n stuk staaldraad of ’n ou geroeste koperslot, alles word voor hulle oë, eensklaps, abra kadabra!, ka-ching!, sommer nét so, ’n klompie Madibas in ’n stukkende broeksak. ’n Stukkie brood, ’n bietjie pap, ’n eiertjie as hulle dit kan bekostig. En só oorleef hulle nóg ’n dag. Maar die belangrikste lewensles wat die ashoop vir haar en Ricky geleer het, is dat geld nét geld is en goeters nét goeters. Hulle regte skatte maak hulle in die hemel bymekaar.
Net duskant Dory se veldkombuis ontwaak Kleinmeidjie en Gorris in hulle omgekeerde plastiekvullisdrom. Die twee basterbrakkies gaap en rek hulle hondebeentjies lank uit voor hulle uit hulle slaapplek kruip en mekaar spelerig aan die ore begin byt. Dory en Ricky maak hulle groot, want mense van die dorp het hulle eenvoudig hiér kom weggooi. Sy sou hulle die volgende dag huis toe vat, want sy ruik reën. Sy het ook gesê sy gaan ’n klong betaal om die sitkamerstel en die dubbelbed op ’n bakkie vir haar Vredenburg toe te vat, want met dié skatte gaan sy haar huis loop mooi maak.
Honde
Advertisements
Standard

Van beskeie kombuisie na Kokkedoor-faam

Leroux in Lekke by die See se kombuis.

Een van my gunsteling profiele wat ek vir Weslander gedoen het –

En dan verskyn hy uit die restaurant se beskeie kombuisie. Die reuk van diepgebraaide stokvis, kort op sy hakke.

Kordate stappie. Opstaan kuifie. Pienk plakkies. Hy is ’n teenwoordigheid.

Die warm glimlag kom saam met ’n stywe druk nog voor ek my hand kan uitsteek.

“Leroux vanVuuren,” stel hy homself voor. So asof ek nie reeds weet nie. Hy is immers Langebaan se eie realiteitstelevisie-ster, oornag ’n celebrity-sjef geword in kyk-NET se tweede seisoen van Kokkedore.

 

Ons skuif agter die afgedopte betontafel in en ek steel ’n oomblik om die blink blou water te bewonder, ’n vinnige huppel oor die lappie gras van ons af weg.

Ons slurp-slurp so aan die skuim op ons cuppachino’s. Dan vra ek oor Kokkedore en sy rankerige lyf  lyk of dit skielik groei soos hy regop sit en luister. Daar is duiweltjies in sy blou oë. Maar hulle dans nie. Hulle lê sommer so agteroor, voete in die lug, asof hulle lekker vakansie hou.

En dan begin hy uitpak. Van voor tot agter. Van Hetta, Mariëtta en Nic tot by Prins Albert se sjarme, hulle vyfster-verblyf, die stres van kosmaak voor ’n kamera, die kameraadskap op die stel en venynigheid tussen die finaliste agter die skerms.

“Nou maar toe, sê maar hoe ver jy gekom het,” skimp ek.

“Nee, nee, ek mag nie sê nie. Julle sal maar Kokkedore moet kyk om uit te vind.”

Ek het geweet ek vat ’n vet kans.

“Waar het jou liefde vir kosmaak begin?”

“Op Grootfontein, in Namibië”

Hy was ’n tjokkertjie van so agt. Pa, ds. Christo, wou so graag vir sy seuntjie wys hoe ’n motor werk, maar Leroux het eerder by sy ma, Adelheid, in die kombuis gaan wegkruip, waar sy gewoonlik besig was om vir die kerk te bak. “Ek het dit verpes om daar onder die kar in die ghries te lê. Ek was só verveeld.” Hy steek sy tong uit en rol sy oë om te demonstreer. Dan lag hy hardop en ek sien weer die duiweltjies wat so lekker lê.

“En toe?” wil ek weet.

Ná skool het hy as soldaat per ongeluk, of dalk eerder per geluk, in spyseniering beland. Hy moes selfs ’n paar koeëls en bomme in Angola ontduik toe hy as persoonlike kok saam met ’n paar militêre grootkoppe gereis het. Met sy weermagdae agter die rug het hy werk as bestuurder by ’n Italiaanse restaurant in Pretoria gekry, maar hy was te “djonk en djikkerig om stil te sit” en kort voor lank is hy saam met ’n vriend Kaap toe. As buskelner en toergids vir die InterKaap-busdiens het hy sy vrou, Estelle ontmoet. “Die beeldskone blom het op ’n dag daar in die kantoor gesit” sê hy, skielik bietjie hees. Diep ingedagte. Sy wange raak die kleur van sy plakkies. ’n Paar jaar later het hy haar op ’n werksvakansie by ’n kibboets in Israel in die waatlemoenland gevra om te trou. Die avontuurlustige pasgetroudes het hulle voete in Durbanville gevind waar die kroos, CJ(12) en Ella (10) gebore is, Leroux se twee lekkerste oomblikke óóít! Nommer drie is Kokkedore.

Hulle het in Langebaan beland nadat Leroux se besigheid gevou het. Die huis in Leentjiesklip was ten minste afbetaal.

Hy en ’n pel, Hannetjie Steyn, het

groot gewaag toe hulle in 2008 die
seefrontrestaurantjie by Mykonos begin het. En kyk nou! Ek tuur weer oor die water. Nee wat, hulle kon nie juis ’n fout maak met só ’n uitsig nie.

“So wat maak jy graag vir jou mense by die huis wat lekker is?”

“Malvapoeding. Dis my party trick.” Sy ander partytjietruuk is die feit dat hy ’n karakter in die kombuis is. Hy wil sy gaste vermaak terwyl hy kosmaak. “Kyk, ek sny mos nie net sommer ’n wortel nie … ek sny dit só.” Groot klem op die O en ’n dramatiese Oscar-waardige vertoning volg waar hy kamma’n onsigba-re wortel blitsig opkerf.

Punt. Ek bêre my pen en staan half teë op. Ek is lus om heeldag saam met die kok te kuier wat homself as ’n palmboom beskryf. Regop, stewig en hoog, buigsame takke wat ritmies saam met die winde van die lewe beweeg. Op die stoep poseer hy laf en vol bravade in sy Kokkedoorvoorskoot. Voor ek groet vra ek Hannetjie in die kombuis watter foto ek moet gebruik. “Daai een.” Op my digitale skermpie is Leroux se kop agteroor en hy lag te lekker uit sy maag uit. “Dis net Leroux daai. Nés ons hom ken.”

 

Le%20Roux%20-007_1_0_695052684[1]

Standard