Skatte op die asgat én in die hemel

Dory Dolf Nog een van my gunsteling mensestories wat ek vir  Weslander geskryf het:
 Agter Langebaan se vaal sandbedekte rommelhope is ’n versteekte oase.
Daar brand ’n vuurtjie in die braaikonka waarom ’n verslete bruin sitkamerstel gerangskik is.
Dory Dolf is besig met middagete. Sy trek ’n plastiekkrat nader, gaan sit fyntjies – ’n wafferse dame – en vou haar dun beentjies, nogal ewe in visnetkouse, soos ’n koeksister oor mekaar. Dan hou sy haar klein skurwe handjies oor die hitte van die gloeiende kole. Mens kan sien sy is netjies op haarself. Haar wit bloesie is silwerskoon en lyk amper of dit net ’n paar kort ure gelede onder ’n warm strykyster deur is. “Ons eet nie van die dump af nie,” sê sy. “Ons gaan koop ’n kossie en kom maak dit hiér gaar.”
Sy trek haar krat nader aan die konka sodat sy kan werk. Daar is pap in die swart gebrande pot met die skewe deksel – dalk in ’n vorige lewe ’n spoggerige blink pot in ’n Myburghpark-huis gewees. Langsaan in die vaalgebrande blik begin die koffiewater klein blink borreltjies maak. Die warmwaterfles staan reg. Dory is al ’n groot vrou, soos die volk sal sê. Haar kinders is lankal opgegroei, haar trots. Hulle woon in die Burg, vertel sy en roer die pap met ’n fyn polsbeweging al in die rondte. Vir die helfte van die jaar bly sy hiér op die asgat in die Baan om geld te maak, en as die reënmaande kom gaan sy Vredenburg toe, na haar huis toe. “Maar natuurlik het ek ’n huisie,” sê sy ietwat vererg, maar glimlag darem.
Die plooitjies langs haar koffiekleurige kraalogies verklap haar jare en agter dié sielvolle kraaltjies is iemand met hart, met deernis, intelligensie, selfs ’n tikkie humor. Want oor háár harde lewe moes sy leer om te lag. Die meetsnoere het nog altyd op lieflike plekke vir ánder mense geval en van lugkastele bou weet sy niks. Dis mos iets wat nét die rykes doen.
Maar elke nag as Dory en haar lewensmaat, Ricky, op hulle opteldubbelbed onder die gevlekte duvet inkruip en na die melkweg se wasige spoor oor die oneindige hemelgewelf staar, weet sy die heelal het nie heeltemal van hulle vergeet nie. Dié ashoop is ’n gebed wat verhoor is nadat Ricky sy werk verloor het, want hiér kan hulle ’n lewe uit ander mense se weggooigoed maak.
Swaarkry het hulle geseën met ’n spesiale geskenk, om skatte op dié rommelwoestyn te kan raaksien. ’n Leë koeldrankblikkie, ’n stuk staaldraad of ’n ou geroeste koperslot, alles word voor hulle oë, eensklaps, abra kadabra!, ka-ching!, sommer nét so, ’n klompie Madibas in ’n stukkende broeksak. ’n Stukkie brood, ’n bietjie pap, ’n eiertjie as hulle dit kan bekostig. En só oorleef hulle nóg ’n dag. Maar die belangrikste lewensles wat die ashoop vir haar en Ricky geleer het, is dat geld nét geld is en goeters nét goeters. Hulle regte skatte maak hulle in die hemel bymekaar.
Net duskant Dory se veldkombuis ontwaak Kleinmeidjie en Gorris in hulle omgekeerde plastiekvullisdrom. Die twee basterbrakkies gaap en rek hulle hondebeentjies lank uit voor hulle uit hulle slaapplek kruip en mekaar spelerig aan die ore begin byt. Dory en Ricky maak hulle groot, want mense van die dorp het hulle eenvoudig hiér kom weggooi. Sy sou hulle die volgende dag huis toe vat, want sy ruik reën. Sy het ook gesê sy gaan ’n klong betaal om die sitkamerstel en die dubbelbed op ’n bakkie vir haar Vredenburg toe te vat, want met dié skatte gaan sy haar huis loop mooi maak.
Honde
Advertisements
Standard

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s