Slat daai spraakterapeut met ’n papsnoek – dis ons geboortereg!

Vannie Kaap 2

(Ek leen hierdie sêding (bo) by Vannie Kaap se Facebook-blad. Dié mense weet hoe praat die Capies. Besoek hul by https://www.facebook.com/vanniekaap.co.za/ )

Ák en my mô gaan Kôp toe …
Nee, ek vloek jou nie. Lees dit gou weer, dié slag hardop. Nou klink jy soos ’n gebore Joh’burger. In die Weskus praat ons effe platter. Dis mos ’n local dêng en local is lekka, masekjênd!
Dan is daar dié van ons wat Velleghif sê in plaas van Velddrif. Slat daai spraakterapeut met ’n papsnoek! Brei is g’n spraakprobleem nie. Dis ’n Sandveller se geboortereg.
Ons smaak om te pghaat soes ons pghaat, want ons is vannie Kaap. En hier bedoel ek Kaapstad, die Weskus, die Suid-Kaap, die Noord-Kaap en veral die Namakwaland met sy innemende sêgoedjies en ráák beskrywings.
Elke Kaapse streek het sy eie manier van praat ontwikkel. Oor die dekades het Afrikaans, Engels en outentieke sleng-streektaal verstrengel geraak en hieruit is ’n interessante, kleurvolle, mengelmoes van ’n oppie-straat-kletstaal gebore.
Afrikaaps – soos die bekende teaterproduksie homself ook roep – is ’n goeie naam vir ons lekkerpraat-straattaal.
Dis ons erfenis en ons is soema rerag baie trots daarop.
En dis deesdae hoog mode, hoor. As die Gautengelengers kom kuier, loop koop hulle dadelik T-hemde en koffiebiekighs met Afrikaapse sêgoed op. Dis vir brêg om die braaivleisvure daar in Roodepoort.
Ons taal is outentiek, dis ougat en poenantjies, só eie aan ons, maar . . . O, bose bokkom! Onse mense kan nie spel nie. Dis veral die jong Weskus-kinnighs, gedurig op hul fone, wat sukkel om onderskeid te tref tussen formele taal – die manier hoe ons ’n ding skryf – en fonetiese taal – die manier hoe ons hom sê.
En dan is daar nog Facebook- en WhatsApp-taal wat die horries drie verdiepings hoog op my kop laat staan.
“Hri, wne km j n m hys tu? Huko j so stil?” Dís nou ’n literêre juweeltjie as jy ooit een gehoor het.
Ek wonder wat maak hy met al die tyd wat hy spaar deur sy woorde nie uit te skryf nie? Aikona! Dis lui, dis lelik en dis ’n lekker verskoning as jy nooit geleer spel het nie.
Maar laat ek nou maar nie ons gewone Weskus-brasse en -brassinne te kwaai oordeel nie.
Dalk kan ons die skuld aan die moderne digitale era gee. Kinders lees mos nie meer nie, kyk net prentjies en YouTube. Dit dáár gelaat, besighede wat per ongeluk (omdat hulle nie in Ingels kan spel nie) Afrikaaps op hul amptelike sake-korrespondensie of winkelvensters gebruik, kom baie onprofessioneel voor. ‘n Bekende winkel hier op onse Weskusdorpie adverteer gereeld op hul borde dat hulle petty pens en baby merrows verkoop.
A nee, a, man!
Dink net hoe lag die besoekers wat hier kom vakansie hou vir ons. Julle is ’n oulike winkel, maar koop asseblief ’n woordeboek. Of gebruik ten minste Google-vertaal, dit werk ook . . . meestal.
So ’n paar jaar terug het ons gaan eet by ’n oulike plekkie in Saldanha. Op die swartbord was die special van die dag, ’n seekos-platter geskryf met die volgende: Hake, 4 queen prawns, calamari, crap and chips.
Ek het eerder ’n kaasburger bestel, want as ek crap wou eet, het ek sommer my kind se vuil Kimbie nader getrek.
Advertisements
Standard

Oor depressie: My prinseskroon van dogtertjietyd is weg gesmyt en vertrap

prinses

Sommige mense praat van ‘n donkerte, maar vir my is dit eerder ‘n wasige, verlammende niksheid wat my stilletjies omsingel.

In my geestesoog is die niksheid ‘n digte, grys mis. Ek het nie meer perspektief nie, ek kan nie sien wat om my aangaan nie.
As ek om hulp roep, trek my stem nie ver nie. Niemand hoor my nie.

Dis onvermydelik, ek asem die niksheid in en dit verober my van binne af. In die wêreld stap daar nou net ‘n dop rond … ‘n dop wat glimlag en al die regte dinge sê. En ek dra ‘n masker, een met ‘n walglike glimlag daarop. Ek is weer ‘n robot-zombie, ‘n slaaf van die niksheid.

“Hoe gaan dit met jou?”, vra een wat nie regtig wil weet nie.

Kan haar seker nie blameer nie, sy het haar eie duiwels waarmee sy worstel.

Ek kan sien sy verwag nie eintlik ‘n antwoord nie, maar ek is tog so bly iemand vra na my.

In my gedagtes sien ek hoe my lippe die woorde vorm: help my! Maar die niksheid vreet die letters op voor dit klanke kan word.

“Goed dankie,” antwoord ek.

Ek lieg seker nie, ek het so baie om oor dankbaar te wees. So, word ek vertel wanneer ek durf om die waarheid te uiter. En elke keer as ek hoor ek moet dankbaar wees en ophou kla, glo ek nog so ‘n bietjie meer dat hoe ek voel nie saak maak nie … Ek moet stilbly, dit binne hou, want daar is uitgehongerde, sterwende kinders in Afrika.

Goed dankie maal deur my dowwe kop. Die woorde voel vreemd en vals. Ek gil saggies binne myself elke keer wanneer ek dit sê.

“Bly dit gaan goed,” reageer die een wat nie regtig wou weet nie.
Ek sien haar gedagtes is ook klaar elders.
Sy wil loop, het haar eie dinge om te gaan doen. Sy weet nie van die niksheid nie en ek gaan haar nie sê nie, al begeer ek dit.

Ek wil nog vra hoe dit met haar gaan, maar ek is nie lus om te hoor dat dit goed gaan nie, dat sy nie kan kla nie.

My walglike glimlag raak breër. Dis net spiere wat saamtrek, geen emosie daaragter.

“Nou maar toe, praat weer later,” sê ek. My arme honger siel ruk en klop verbete toe ek wegstap, want ek het myself weer verraai. Ek is ‘n gevangene in my lyf. Die niksheid verwurg my, maar dis nie ordentlik om te sê hoe mens regtig voel nie. En niemand hou van ‘n Jannie Jammergat nie.

My dae bestaan uit take en werk. Ek hardloop soos ‘n malding om die horlosie, ek sien niks meer om my raak nie.

Ek is ‘n marionet in die verveligste verhoogdrama ooit. Die niksheid het ‘n verbod op my vryheid van spraak, my denke en my verbeelding gesit. Ek smag na inspirasie… Ek het my mojo verloor.

My eens pragtige vlerke is geknip en hul het donker en dof in die hok geraak.

Die wêreld het my geleer om te konformeer en mooi op die lyn te loop. My prinseskroon van kindertyd is afgeruk en deur die ongenaakbare realiteit van die grootmenswêreld vertrap.

Ek sien nie meer gesigte in waterdruppels of diere in die wolke nie. Daar is nie meer magic in ‘n melkskommel nie. Waarheen het die nuuskierige dogtertjie met al haar idees, talente en drome gegaan?

Vir ander is depressie ‘n donkerte, vir my is dit ‘n verlammende, leë gevoel van niksheid…

Standard