‘n Voorbode en Goddelike boodskapper – Jesus het my van tragedie gered

Man walking on a Bible towards a cross

“Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.’ Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.” – 2 KORINTIËRS 12:9 AFR83

‘n Vreesaanjaende gevoel van onheil het by my gespook. Ek glo dit was ‘n voorgevoel, ‘n waarskuwing dat ‘n verskriklike tragedie vir my voorlê.

Dié gevoel, noem dit maar ‘n voorbode, en ‘n vreemdeling wat my lukraak by ‘n winkelsentrum voorgekeer het om aan my te sê dat God nie wil hê ek moet in Gauteng gaan kuier nie, het my gewis van groot ellende gespaar, selfs dalk my lewe gered.

God het my uit ‘n donker plek kom haal, my lewe onherroeplik verander en oorvloedige seëninge soos sagte reën op my laat uitsak.

Maar laat ek voor begin. My naam is Trish Goosen en dié is my getuienis.

Vasgevang in ‘n emosionele doolhof

Die jare 2007 en 2008 staan vir my uit as ‘n donker, droewige tyd in my lewe.

Aan die begin van 2007 het my verhouding van sewe en ‘n half jaar met my skoolkys tot ‘n einde gekom.

Vir my was dit ‘n enorme traumatiese gebeurtenis in my lewe, ‘n diep, omvangryke verlies, wat my wêreldjie en identiteit in duie laat stort het. Ek het my werk in George bedank en is sak en pak na my ouers op die Weskus terug. Ek was 25 jaar oud.

My hart was só seer, dat ek die fout gemaak het om sommer dadelik weer ‘n verhouding met iemand aan te knoop. En hierdie verkeerde besluit, wat ek uit ‘n hopelose plek gemaak het, het my verder gebreek, my siel nóg meer uitgemergel, want my nuwe kêrel was heelwat meer stukkend as ek.

Ek is blootgestel aan alkoholisme, narsisme, manipulering, leuens en ontrouheid. Boonop het hy plofbare humeur gehad en ‘n onheilspellende donker kant, wat my soms geweldig benoud gemaak het.

Ek was emosioneel só uitgeput dat ek nie meer krag gehad het om hierdie ongesonde romantiese verhouding waarin ek vasgevang was, te beëindig nie. Die man het ‘n mag oor my gehad, wat ek vandag nog nie verstaan nie. Ek was verlore in ‘n emosionele doolhof.

 

‘n Gebed ná smeking en trane verhoor

Dit het my soggens sowat 20 minute geneem om van my ouerhuis in Velddrif na my werksplek in Langebaan te pendel. Ek het van die stil, alleentyd in my motor gebruik gemaak om met die Here te praat.

“Here, ek weet ek moet hom los. Ek is nie ongehoorsaam nie, ek is net baie moeg en moedeloos.

“Gee my asseblief krag om die verhouding te verbreek en skep vir my die gunstige omstandighede wat ek nodig het, om te kan doen wat ek moet, sonder dat dit verdere trauma vir my veroorsaak.”

Dít was my gebed, wat ek met smeking en hopelose trane, byna elke oggend in my motor gebid het.

 

En die Here het my gebed wonderbaarlik en bonatuurlik verhoor. Die man het ‘n werk in Pretoria gekry en soontoe verhuis. Hy sou vir ons ‘n woonstel gereed kry, dan sou ons oor ‘n paar maande trou en ek by hom gaan bly.

Sý plan, nie myne nie.

Hy het getrek sonder dat ek die verhouding verbreek het, maar ek het geweet ek sal nooit by hom gaan bly nie en dat die afstand tussen ons, sal help om my emosioneel van hom los te maak, sodat ek hom geheel en al uit my lewe kan kry.

 

Die voorbode

Kort voor lank het ek begin verlang. My verbryselende sielesmart het tot kromgetrekte oordeel en swak besluitneming gelei.

Vandag besef ek dat ek nie werklik na hom verlang het nie, maar na iemand wat my weer kan heelmaak.

Daardie iemand is natuurlik nét God, maar ek was nog nie geestelik volwasse genoeg om dit te besef nie.

Ek en die man het kontak gehou en ons het afgespreek dat ek vir hom in Pretoria sal gaan kuier – net vir ‘n naweek. Hy het vir my ‘n vliegkaartjie gekoop en alles was gereël.

Ek het die beplande kuier probeer regverdig deur vir myself te sê dat ek hom nog nie behoorlik gegroet het nie. Ek het myself belowe ek sal die verhouding ná my naweek in Gauteng beëindig.

‘n Angstige, makabere gevoel het byna dadelik by my posgevat. Dit het my dag en nag verpes. Ek het vir myself gesê dis net ‘n projeksie, ‘n hersenskim, van obsessief-kompulsiewe gedagtes, wat my al van kleintyd af soms buitensporig vir gewone, alledaagse dinge bangmaak.

Dis seker net skuldgevoel omdat ek weet dat ek gaan kuier, met die wete dat ek hom daarna sal afsê.

Terugskouend is dit vandag maklik om te erken dat daardie voorgevoel ‘n luide, dringende wekroep aan my was. As ek moet sê hoe die waarskuwing geklink het, kan ek woorde soos onheil, tragedie en ellende gebruik. Ek besef hierdie voorbode is sonder ophou in my oor geblêr, maar ek was te verward om dit te hoor.

Die datum van die kuiernaweek het al nader gekom en toe God sien ek verstaan steeds nie sy waarskuwing nie, het Hy vir my iemand gestuur om die boodskap direk aan my te bring.

 

Nutsman bring ‘n Goddelike boodskap

Daardie beduidende oggend het ek weer, soos elke weeksdag werk toe gery. Ek het gesien dis nog vroeg en ek het besluit om vining by die winkelsentrum naby my werksplek stil te hou, want ek het lipsalf nodig gehad.

Terwyl ek parkeer, het ‘n bakkie aangery gekom en in die parkeerplek reg oorkant my stilgehou. Die bestuurder van die bakkie, ‘n ouer man, het my stip deur sy voorruit dop gehou. Ek het nog agter die stuurwiel in my motor gesit.

Ek het my vervies vir die orige oom, vining uit my motor geklim om van die man se deurborende kyk weg te kom en haastig na die winkelsentrum gestap.

Ek het my lipsalf gekoop en nog ‘n draai in die sentrum geloop, want ek wou seker maak die man in die bakkie is weg wanneer ek na my motor terugstap.

Toe ek buite kom, sien ek dat hy steeds in sy ryding sit. Ek was baie ongemaklik toe ek in my motor klim, want ek kon sy oë weer op my voel. Sy blik het deur my gebrand.

Ek het my motor aangeskakel en die bakkie voor my se enjin het ook begin brul. Ons voertuie het neus aan neus in die parkeerterrein gestaan en toe ek opkyk, sien ek die man het verby my motor in die oop parkeerplek regs van my gery, sodat sy ruit langs myne geposisioneer is. Hy het met ‘n handgebaar gewys ek moet my ruit afdraai, wat ek gedoen het, want ek het gedink hy wil my dalk van ‘n pap wiel laat weet, of dalk iets anders wat aan my motor stukkend is.

En toe spreek hy die woorde wat my lewe verander het.

“Meisie, ek weet nie wie jy is nie, maar ek wil net vir jou sê, die persoon saam met wie jy nou is, is nie die een vir jou nie.

“Ek weet jy het seer, maar moenie dit doen nie. Jy gaan nog seerder kry. Die man het ‘n ander agenda. Die Here beplan vir jou ‘n baie gelukkiger lewe.”

Ek was stomgeslaan. Hoe weet hierdie man wat in my lewe aangaan?

“Ek kan sien jy is geskok. Beteken dit vir jou iets?”

Ek het geknik, terwyl my brein teen die spoed van lig gewerk het om sin te maak van dít was pas gebeur het.

“Ken jy hóm?!” het ek uiteindelik gewaag.

‘n Baie kalm “nee.”

“Weet jy wie ék is?” het ek weer probeer.

“Nee, ek sê mos, ek weet nie wie jy is nie. Die Here het vir my gesê ek moet die boodskap aan jou oordra.”

Hy het sy besigheidskaartjie vir my gegee en gesê ek moet hom bel wanneer ek oor alles nagedink het, want hy wil vir my bid.

Toe hy wegry, het ek verslae na die stukkie karton in my hand gekyk. Op die kaartjie was ‘n kleurvolle prentjie van ‘n werker met ‘n hamer in die hand. Die boodskapper is ‘n nutsman. Vir een of ander rede het ek verwag hy moet ‘n dominee of ‘n pastoor wees.

Ek het kantoor toe gery en daar agter my lessenaar gaan sit en huil. Binne my was daar geen twyfel nie. Die boodskap het werklik van God af gekom.

 

Genadegawes

Eers ‘n maand later, nadat ek my verhouding beëindig het en die Gauteng-kuiertjie van die hand gewys het, het ek uiteindelik die moed bymekaar geskraap om die nutsman te bel.

In ons gesprek het hy aan my verduidelik dat hy soms boodskappe van die Here af kry.

Ek wou weet hoe baie Bybelstudie ek moet doen en wat ek moet bid, om so naby soos hý aan die Here te kom.

Hy het met deernis gelag.

“Nee, mens noem dit ‘n genadegawe. Dis amper soos ‘n talent, iets wat jy uit genade ontvang en waarmee jy die Here kan dien,” het hy verduidelik.

“Sommige mense kan mooi sing, of vining hardloop. Ek kry boodskappe van die Here af. As jy nie kan doen wat ek doen nie, beteken dit nie daar is fout met jou verhouding met God nie.” Hy het vir my gebid voor ons afgelui het.

 

Vrees oor ‘n doodskis

Kort daarna het ek op ‘n dag vir die eerste keer aan my ma van die vreesaanjaende gevoel vertel wat ek ervaar het.

Sy het verbaas na my gekyk.

“Ek het dieselfde gevoel gehad,” het sy erken.

“En ek belowe, ek het nie vir Pappa vertel hoe ek voel nie, maar hy het na my toe gekom en gesê hy wil nie hê jy moet in Gauteng gaan kuier nie, want hy is bang sy kind kom in ‘n doodskis terug.”

Ek weet nie wat sou gebeur het, as ek wel in Pretoria gaan kuier het nie, maar ek sidder eintlik om daaraan te dink. Ek glo dit was ‘n baie noue ontkoming en ek weet nie of ek vandag nog hier sou gewees het, as Jesus nie ingegryp het en my gewaarsku het nie.

Vandaar het ek aan God se belofte vasgehou en vorentoe gekyk. Hy het dan belowe dat Hy vir my ‘n baie gelukkiger lewe beplan …

Ek het geweet Hy sal sy belofte hou. Want Hy is God. Teen die einde van 2008 het ek die liefde van my lewe ontmoet, ‘n gelowige man met rotsvaste waardes, oorspronklik van Namakwaland.

 

God se liefde is groot

Ek het in Januarie 2009 in my ma se kombuis gestaan en die Gees het met my gepraat, want ek het steeds nie besef, die Namakwalander, is die een wat God aan my gestuur het nie.

My oë het binne ‘n oomblik oopgegaan en ek het geweet God is besig om te doen wat Hy belowe het. Ek het meteens verstaan ek hoef nie te twyfel nie, want hierdie besondere man sal my gelukkig maak, altyd by my wees en my nie seermaak nie.

Op 2 Oktober vanjaar sal ek en die Namakwalander tien jaar getroud wees. Ons stry ook soms, nes enige ander paartjie, maar daar is groot respek en oorvloedige liefde vir mekaar. Ons het twee pragtige blonde seuntjies en ons is werklikwaar gelukkig.

Ek weet God se belofte beteken nie dat dinge nooit sal skeef loop nie, maar eerder dat Hy ons as gesin altyd in Sy almagtige hand sal hou.

Hy laat die moeilike tye, die lewe se uitdagings, ons persoonlike struwelinge ten goede saamwerk, sodat ons deurlopend van ons afhanklikheid aan Hom bewus moet wees en geestelik in Hom kan groei.

 

 

Standard

2 thoughts on “‘n Voorbode en Goddelike boodskapper – Jesus het my van tragedie gered

  1. Anna Cloete says:

    Die getuienis het my diep geroer.
    God se Genade is inderdaad baie groot oor ons elkeen.
    Seëninge vir jou toekoms.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s