Medici gee haar ‘n ‘doodsvonnis’ – maar God besluit sy sal lewe

“As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil. Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.” – Hebrieërs 11: 6

“Want ons lewe deur geloof, nie deur sien nie,” – 2 Korintiërs 5:7

Elmarie Melson stel nie haar vertroue op dít wat sy kan sien of die wêreld se opinies van wat moontlik is nie. Volgens die wêreld het sy geen kans gehad om ooit kinders te hê nie en sou ‘n teminalie siekte lankal haar lewe geëis het. Sy vertrou op God en glo vir Hom is niks onmoontlik nie. Oor haar sterk geloof, is sy met ‘n geseënde lewe beloon. Hiér is haar merkwaardige getuienis:

Bewend kwaad voor God

“Hoe durf U my nou wegvat?!” het sy uitgeroep.

“Ek weier. Ek bly net hier. U sal my nie wegvat nie!”

Elmarie Melson het bewend kwaad met God in haar slaapkamer geworstel.

Trane het oor haar wange gevloei terwyl sy hardop gebid het.

“Hoekom Here! U het my twee pragtige kinders gegee. Ek het baie jare vir hulle gebid en U het my gebed verhoor. Moet hulle dan nou sonder hulle ma grootword?”

Vroeër daardie dag in 2017 is sy met polminêre fibrose, ‘n terminale longsiekte gediagnoseer.  Sy was net 40 jaar oud. As sy gelukkig is, sou sy net drie tot vier jaar oor hê om te leef.  

Elmarie het sedert sy haar verstand gekry het ‘n verhouding met Jesus Christus en ‘n vaste, opregte geloof. Sy het nog altyd ten spyte van vele beproewinge in haar lewe, God se goedheid en guns in haar lewe ervaar. Waarom sou hy haar nou van haar gesin af wegneem?

Sy het die Vader met haar smeekgebed uitgedaag, maar terselfde tyd het sy haarself uit ‘n plek van groot respek en totale oorgawe tot die soewereine God van die heelal gewend. Sy was nog altyd verseker van Sy groot genade en liefde vir haar. Daarom het sy net daar, in haar slaapkamer besluit, dat sy Hom gaan vertrou, soos sy Hom nog altyd vertrou het. Al is dit hóé moeilik.

‘n Doodsvonnis

Op daardie tydstip was Elmarie se gesondheid besig om vinnig agteruit te gaan. Dit het gevoel of sy deur ‘n strooitjie asemhaal.  Sy was gedurig moeg en benoud weens haar suurstoftekort. Die longsiekte waarmee Elmarie gediagnoseer was, is volgens die medici ‘n doodsvonnis. Polminêre fibrose, of longfibrose veroorsaak dat longweefsel beskadig en littekens word. Hierdie verdikte, stywe weefsel maak dit moeiliker vir die longe om behoorlik te werk. Die longskade wat deur longfibrose veroorsaak word, kan nie herstel word nie, maar medisyne en terapieë kan soms help om die simptome te verlig en die pasiënt se lewensgehalte te verbeter. Die siekte is progressief en lei in meeste gevalle tot die dood. Die enigste werklike kans op oorlewing, is ‘n longoorplanting.  

‘Vat my in haar plek’

Daar was ‘n wagtydperk van drie maande tussen die diagnose en haar eerste afspraak by die polmonoloog. Die spesialis wat haar gediagnoseer het, het aanbeveel dat sy dié tyd gebruik om haar huiswerk te doen oor die siekte en die verskeie behandelings, sodat sy haarself sielkundig kan voorberei vir die moeilike pad wat voorlê.

In hierdie tyd het familielede en vriende deurlopend vir Elmarie gebid. Die siekte het selfs haar man Max, wat op daardie stadium nog nie gered was nie, op sy knieë gebring. Sy het een nag wakker geword. Hy het sy hande oor haar rug uitgestrek en gebid.

“Asseblief, moenie haar wegvat nie. Ons kinders is nog jonk. Vat my in haar plek,” het hy by God gepleit.  Max het dit toe nog nie geweet nie, maar die Here sou sy gebed verhoor en sy aanbod om hom te ‘kom vat’ aanvaar, maar nie op die manier wat hy gedink het nie.

Wonderwerkkinders

Die dokters het destyds in 2000 aan Max en Elmarie gesê dat hulle nooit sal kinders hê nie.  Elmarie het aan polisistiese ovariële sindroom gelei, ‘n groot oorsaak van onvrugbaarheid onder miljoene vroue wêreldwyd. Max het weer misvormde spermselle. Net 5% van die spermselle was lewendig, waarvan sommige nie koppe gehad het nie en die res nie sterte nie. Die egpaar het volgens kenners as individue onderskeidelik net omtrent ‘n 2% kans gehad om voort te plant, maar saam, was daar nie eintlik ‘n kans nie dat hulle ooit sou kon swanger raak nie. Vertiliteitsdokters was bereid om hulle met in-vitro-bevrugting te help, maar het die paartjie daarop voorberei dat die pogings heelwaarskynlik nie suksesvol gaan wees nie. Elmarie het egter altyd vertrou dat die Here haar en Max met kinders gaan seën. Ná ses jaar se mislukte invitro-pogings, en miskrame, net toe Elmarie wou tou opgooi, het sy met ‘n drieling swanger geraak. Sy het twee van die babas tydens die swangerskap verloor, maar Richeld het mooi gegroei en is in April 2006 gebore, sy ouers se groot trots.

Die vertiliteitsdokter was baie verbaas toe die paartjie weer in 2010 in sy kantoor sit. Hy kon nie glo dat hulle weer wou probeer nie. Die dokter was oortuig dat Max en Elmarie dié slag onmoontlik weer swanger kan raak, want Richeld was volgens hom ‘n blote geluk. Boonop was Elmarie nou ook heelwat ouer. Maar die egpaar het onwrikbaar in hul oortuiging gestaan dat hulle weer gaan probeer. Elmarie het geweet Richeld is ‘n wonderwerkkind en dat niks vir God onmoontlik is nie. Sy het gebid en vertrou dat Hy weer ‘n wonderwerk vir hulle sal laat gebeur. 

As deel van standaardprosedure voor die vertiliteitsbehandeling begin is, is Elmarie gevra om ‘n swangerskaptoets in die spreekkamer te doen. Tot haar groot verbasing was sy reeds swanger, sonder enige mediese intervensie! ‘n Pragtige dogtertjie, Mila Melson is in 2011, ook in April aan die egpaar gebore.

Haar ouers getuig dat klein Mila reeds van ‘n vroeë ouderdom af “soveel Goddelike insig en liefde vir ander het. Die Heilige Gees is lewend in haar,” sê hulle.

Elmarie het dit moeilik gevind om te glo dat God sal toelaat dat sy weens polminêre fibrose sterf – veral nadat Hy twee kosbare wonderwerkkinders aan hulle toevertrou het.

Deur gebed genees

In die tydperk wat Elmarie gewag het om die polmonoloog te sien, het sy een aand by ‘n gebedsgeleentheid van hulle kerk opgestaan en vir voorbidding gevra. ‘n Groep mense het om haar gestaan en hande op haar gelê. Die pastoor, Errol le Roux van die Weskus-lighuiskerk, het sy handpalms plat op haar rug, in die omgewing van haar longe geplaas. Terwyl almal vir haar gebid het, het Elmarie die teenwoordigheid van die Heilige Gees sterk ervaar. Haar rug het vuurwarm geraak daar waar die pastoor se hande teen haar rug gerus het. Sy het oombliklik geweet dat God haar genees het.

‘n Paar weke later het sy uiteindelik in die polmonoloog se spreekkamer gesit. Hy het die twee stelle x-strale van haar longe aan haar gewys – die x-strale van haar diagnose en nuwe x-strale. Daar was geen teken van polminêre fibrose op die tweede stel x-strale nie. Op die eerste stel x-strale is dit duidelik sigbaar. Die dokter was baie verbaas en het self erken dat hy heeltemal oorbluf is oor haar onwaarskynlike genesing.

‘n Lewe wat van God getuig

‘n Paar maande  ná Elmarie se wonderbaarlike genesing is Max weergebore en het hy sy lewe vir Christus neergelê. Hy het ‘n vurige passie vir die Allerhoogte God en die Evangelie ontwikkel. Hy het ‘n radikale geestelike transformasie ondergaan en die gesinsman en eggenoot vir Elmarie geword wat sy altyd geweet het hy kan wees. Elmarie het ten spyte van verskeie uitdagings in hul huwelik oor die jare, nooit moed verloor dat die Here ‘n volmaakte plan vir Max se lewe en vir hulle huwelik het nie.  Sedert Max se bekering, is die gesinsbande sterkter as ooit. Daar is liefde, vrede en oorvloedige vreugde in hul huis. Elmarie en Max ken die Here in elke besluit wat hulle neem en soek na God se will is alles wat hulle doen. Die egpaar se sake-onderneming floreer sedert hulle dit aan God opgedra het. Hulle gebruik elke geleentheid om hulle kliënte met daad en woord te bedien.

“Ek voel soos die Here se witbroodjie,” sê Elmarie dankbaar. “My hele lewe is eintlik ‘n getuienis van God se goedheid. Ek kan ‘n boek skryf oor alles wat Hy al vir my gedoen het.”

Enkele van Elmarie se ander kragtige getuienisse sluit in die herstel van  haar verlamde regterarm, nadat sy in 1990 Guilliam Barré-sindroom opgedoen het, haar noue ontkoming met ‘n bloedklont in haar long in 2007 en die Here se genade om Richeld se lewe te spaar, ná hy as baba ophou asemhaal en Max hom leweloos op hul bed gevind het. Richeld is met slaap-apnee gebore.

Standard

3 thoughts on “Medici gee haar ‘n ‘doodsvonnis’ – maar God besluit sy sal lewe

  1. Hendrik Hagen says:

    Ja hoe kan mens aan die wereld vertel dat ons n lewende Vader aanbid. Net ons wie Hy aangeraak het kan waarlik getuig. Kom ons getuig daarvan sodat mense kan hoor bid en ontvang.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s