Ek het uit my graf uit opgestaan

Toe ek jonk was, wou ek graag my naam in ligte geskryf sien.

Ek wou bekend wees, cool wees, ryk wees, mooi wees.

Toe ek ouer word, is ek geseën met ‘n wonderlike man en kinders vir wie ek baie lief is. Ek het gedink ek het die dwaasheid van my jeug agtergelaat en dat my prioriteite nou reg is, maar steeds het ek soos niemand gevoel nie. Ek het ‘n groot versugting gehad om te presteer, om my stempel af te druk, om iemand te word wat die wêreld sal erken en onthou.

Miskien sou nog ‘n joernalistieke prys my laat beter voel, sou ek waardig voel as ek uiteindelik ‘n top-verkoperboek skryf, as ek ‘n groter salaris verdien. Dalk sou ek myself vind as ek weer maer en mooi is, of ‘n meestersgraad het. As ek net daarin kon slaag om ‘n balans tussen ma-wees, vrou-wees en my werk kon kry. Ek het oorweeg om weer te begin skilder of miskien is “me time” die antwoord, het ek gedink. Dalk sal ek dan vrede hê en nie meer minderwaardig voel nie.

Ek onthou nog die dag toe my ma my gevra het waarom ek so hartseer is. Ek het dan soveel liefde, sukses en voorspoed. Is ek dan nie dankbaar nie? Ek was dankbaar, baie dankbaar, maar iets binne my was gebreek en leeg.

Ek is kort daarna met depressie gediagnoseer. Ek was vir etlike jare in sielkundiges en psigiaters se spreekkamers in ‘n poging om myself reg te maak. Ek het probeer mediteer, ek het selfhelpboeke gelees, ‘n kognitiewe gedragsterapie-kursus gedoen en selfs ‘n aanlyn-kursus probeer wat beweer het dis moontlik om jouself te hipnotiseer om sodoende jou denkpatrone te verander. Maar niks het gewerk nie. Ek het geen vordering gemaak nie. Soms het dit vir my so ongemaklik en pynlik in my eie siel gevoel, dat ek gewens het ek kan van myself vlug. Slaap het vir my verligting gebring, want dan het ek nie die verlorenheid gevoel nie.

My hart het bly hunker na iets wat ek nie by die naam kon noem nie.

Sou ek sterf eendag sonder om my potensiaal ten volle te ontgin, sou ek dalk nooit die geleentheid kry om my talente waarlik te gebruik nie, sou ek my laaste asem uitblaas sonder ‘n nalatenskap?

As ek weer stof word, en ‘n paar honderd jaar gaan verby, sal niemand my naam onthou, of my kinders se name, of hulle kinders se name nie. Dit sal wees asof ons nooit geleef het nie. Sou ek altyd ‘n swerwer sonder rigting wees en ‘n soeker wat nooit vind nie? Gesigte, drome, name is deur die wind verwaai. Die lewe was wreed. Hier vandag en môre weg. Wat het my lewe dan beteken? Die liefde wat ek vir my mense voel, kan tog nie iets wees wat sterf wanneer ons almal weer deel van die grond word nie. Hoe is dit dan moontlik, het ek gewonder.

Ek het myself ‘n Christen genoem, kerk bygewoon en gereeld in Bybelstudie-sessies gesit. Ek het gedink ek ken God. Ek het gehoop ek ken Jesus goed genoeg om hemel toe te gaan. Dis nou, as Hy regtig bestaan en as daar werklik ‘n hemel is. Ek het immers as 17 jarige meisie belydenis van geloof in die kerk afgelê en bedoel wat ek gesê het. Ek was bang om te glo, want wat as alles net ‘n mooi verhaal is om ons te troos. Ek was bang om nie te glo nie, want as Hy bestaan, sal ek verlore gaan. Ek het gedink my eenrigting-gebed wat die plafon tref, is ‘n verhouding met God. My gees was dood.

En toe is ek vir die eerste keer in my lewe in ‘n hoek vasgedruk. Ek kon nêrens heen draai, behalwe na Hom nie. En ek begin Hom toe soek, harder as wat ek Hom nog ooit in my lewe gesoek het. Ek was van plan om agter die kap van die byl te kom, maak nie saak wat dit van my verg nie. Ek wou weet, vir eens en vir altyd.

En my toewyding is deur Hom beloon. Ek het Hom gevind en Hy oortref steeds elke dag al my verwagtinge. Ek sal neerval voor Hom, sy voete met my hare afvee, want Hy het my vergeef en my heelgemaak.

My siel is nou ‘n heerlike plek om in te woon. Ek wil nie meer uit myself vlug nie. Jesus woon binne my, en dis mooi en lekker hier binne. My siel is nie meer ‘n graf nie. Ek het uit my graf opgestaan, want Jesus het die dood oorwin. Jy moet lewe kies. Jy moet kies om in die lig te loop en nie in die duisternis nie.

“Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word” – Matteus 7:7-8

Strome lewende water vloei uit my binneste, my lewe het betekenis gekry, ek ken volmaakte liefde, ek het vrede wat alle menslike verstand te bowe gaan, vrede wat die wêreld nie vir my kon gee nie. Niks in hierdie gebroke wêreld kon my siel bevredig nie, maar nou het ek ‘n onuitputbare bron van vreugde. Die hartseer, die hunkering en die leegheid is weg. Ek sal nooit weer dors kry nie, want ek het van Sy lewende water gedrink.

Die Heilige Gees het elke belofte in Sy Woord op my hart kom skryf. Die Heilige Gees het my beste vriend geword. Ek ervaar God tasbaar in my lewe. Ek praat met Hom en Hy praat met my.

Ek het altyd my kop gekrap as mense gesê het hulle is ‘weer gebore’, want ek het dit nie verstaan nie. Maar nou weet ek dat dit nie iets is waaroor ‘n mens onseker kan wees nie, want om nuut in die Gees gebore te word, is onmiskenbaar.

Ek is waarlik ‘n nuwe skepping. Ek behoort nie meer aan hierdie wêreld nie, al woon ek nog hier. Ek voel soos ‘n ruimtemannetjie wat op ‘n vreemde planeet geland het. Hierdie wêreld is nie meer my tuiste nie.

Sien, mense hoor dat hulle die ewige lewe sal ontvang wanneer hulle Jesus aanvaar, maar is nie bereid om hul rug op die wêreld te draai nie. Want hoekom moet hulle al die lekker dinge van die lewe opgee, vir iets wat hulle dalk, of dalk nie sal kry eendag nadat hulle gesterf het nie?

Maar Jesus het gesê, die mense wat hulle lewe wil behou, sal dit verloor, en diegene wat dit verloor terwille van Hom, sal dit terugkry. Gee jou lewe aan Hom en Hy sal dit dubbel en dwars aan jou teruggee, op ‘n manier wat jy nie in jou wildste drome gedink het is moontlik nie.

Jy sal besef jy het nie regtig voor jy Christus aanvaar het, geleef nie. Jy was al dood die dag toe jy gebore is.

Mense besef nie dat die nuwe, ewige lewe die oomblik begin wanneer jy nuutgebore in Christus is nie. Hy het ook gesê Hy het gekom om aan ons die lewe te gee, ‘n oorvloedige lewe! En ek kan getuig daarvan. Hy het aan my daardie oorvloedige lewe gegee, nes Hy in sy Woord beloof het.

Maar nou wil ek terug kom na die jong meisie wat haar naam in ligte geskryf wou sien. Wat ‘n lawwe en selfgesentreerde gedagte!

Ek wil NET Jesus se naam in ligte geskryf sien staan.

Want net Hy is waardig!

Ek luister graag na Casting Crowns se lied, Only Jesus. Die mooi lirieke tref my altyd hard met die besef dat Hy my onherroeplik verander het. “I don’t want to leave a legacy, I don’t care if they remember me, Only Jesus!”

Ek voel ook so! Laat my lewe ‘n bewys van Sy liefde wees.

Ek is totaal en al, tot my ore toe verlief op Jesus, maar die verskil tussen verlief wees op ‘n mens en verlief wees op God, is dat verliefdheid op God nie hoef weg te gaan nie.

Daar is niks soos die brandende passie vir Jesus wat die Heilige Gees in ‘n mens se hart wakker maak nie.

Toe ek my lewe vir Hom gee, toe Hy my vra om te sterf in myself, en Hom te volg, het Hy my kom vry maak. En nou weet ek die lewe gaan nie oor my nie.

Tog het ek myself nog nooit meer lief gehad as nou nie, want ek besef my waarde. Ek is Sy kind. Daar is regtig net een weg en waarheid en lewe. Sy naam is Jesus.

Daar is net een doel in die lewe. Sy naam is Jesus.

Daar is net een antwoord op al jou vrae. Sy naam is Jesus.

Net Sy naam is waardig en sal vir altyd onthou word.

Standard

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s