Sy was breindood maar met geloof in Jesus is sy genees

“Vir God is niks onmoontlik nie”- Lukas 1:37

Met die geloof van ‘n mosterdsaad kan berge versit word.

Haar nek, sleutelbeen en arm was gebreek. ’n Kopbesering het bloeding op die brein veroorsaak. Uiteindelik het haar longe platgeval en is sy breindood verklaar. “Die dokters wou die masjiene afsit, maar toe gebeur ’n wonderwerk,” vertel sy. Irene het haar bewussyn herwin en wonder bo wonder begin herstel. ’n Moeilike pad het egter vir haar voorgelê, aangesien sy breinskade opgedoen het. “Ek moes alles weer leer doen, soos ’n kind – loop, aantrek, eet, skryf, praat . . . My pa het my in ’n rolstoel uit Panorama-hospitaal gestoot en terug huis toe, Weskus toe, gebring. En hier het ek my God ontmoet.” Mediese kenners, sielkundiges en terapeute het gesê Irene sal nooit weer in ’n skool kan wees nie, maar haar ouers dit reggekry om haar weer in ’n hoofstroomskool in te skryf.

“Ek het nog nooit daarvan gehou as iemand sê ek kan iets nie doen nie,” vertel sy. “Ek het met ’n loopraam en met baie liefde en ondersteuning van my gesin weer begin loop. Ná die eerste kwartaal het ek 2% en 3% gekry. Ek kon niks onthou nie. Ek het korttermyn-geheueverlies weens my kopbesering opgedoen. Ek’s vandag nog ’n bietjie vergeterig, maar ek was nie bereid om op te gee nie. Ek het aan die einde van 2008, ná baie gebede, oefening, liefde en hulp van my gesin en natuurlik geloof in die Almagtige, matriek geslaag.”

’n Haarkapster en sakevrou van Vredenburg, Irene Dirker (30), het met geloof, baie deursettingsvermoë en ’n goeie ondersteuningsnetwerk, haar eie berg oorkom en kan vandag haar storie van oorwinning vertel nadat baie mense geglo het daar is geen hoop vir haar nie. In 2007, toe Irene in graad 11 was, was sy in ’n ernstige botsing betrokke. Sy was ’n maand lank in ’n koma en aan asemhalingsmasjiene gekoppel.

Die jaar daarna het sy afgevat om te rus en behoorlik gesond te word. Irene het besluit sy wil in haar haarkapster-ma se voetspore volg. Isabel Arp de Villiers van die West Coast Hair Academy het haar met ope arms as student ontvang nadat Irene se ma haar “situasie” aan De Villiers verduidelik het.

“Ek het vir drie jaar daar geleer. Ek is nie ’n baie maklike mens om te leer nie, bygesê. Ek is so dankbaar vir die geduld en liefde wat ek by die akademie ontvang het.” In haar derde jaar het Irene se ouers haar gehelp om haar eie haarsalon, Salon Duo Glory, in Vredenburg te open. Sy het haar onderneming by die Weskus-sake-ontwikkelingsentrum geregistreer en “die res is geskiedenis”.

“Net soos ek elke dag by dokters moes hoor dat ek nie matriek sal kan slaag nie, moes ek ook by mense hoor dat ek nooit die salon sal kan laat werk nie.” Irene vier vandeesmaand die salon se agtste verjaarsdag en sy sê die onderneming gaan steeds van krag tot krag. “Geloof soos ’n mosterdsaadjie is al wat Hy vra. Ek het nog altyd geweet – en ek weet dit vandag nog – dat my sukses nie toeval is nie; dit is God se werk.”

Oorspronklik gepubliseer in Weslander (Media24) 10/06/2021

Standard

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s