Bok-fan uit die Ooste gooi Afrikaans

James Song
Chinese hou van kung fu, chow mein en tegnologie.
Wat ’n cliché!
Suid-Afrikaners kyk almal rugby en braai elke Saterdagaand. Stereotiep? Sowaar!
Twee afgesaagde beelde, voosgery al die pad tot by die groot muur in China en terug na die Kaap waar die mammies – voortande skoonveld – op hul hakke loop.
Maar wat van ’n Afrikaanssprekende Chinees in ’n Springbok-rugbytrui? Ah! dink ek toe ek nader stap. Dís mos nou ’n kleurvolle mens waaruit besonderse leesstof geskep kan word. Maar wag, laat ek voor begin.
Ek het James (Dazhi) Song (32) die eerste keer in sy winkel by die Ipic-sentrum in Vredenburg gesien.
Ek was besig om rond te krap tussen die fieterjasies en kitsch ornamente, toe Kaptein Kurt Darren met sy strelende stem die seile oor die winkel se luidspreker begin span. Ek is pienk getiekel. Ek loer om die rak en sien ’n aantreklike jong Chinese man agter die kasregister staan. Kort geskeerde hare. Sagte, deernisvolle oë wat net so effens in die hoeke optrek. Hy is geklee in ons patriotiese groen en goud. Daar’s ’n springbokkie op sy bors en hy help sy kliënte – tot die beste van sy vermoë – in pragtige gebroke Afrikaans. Nou is ek eers beïndruk.
Ek gaan stel myself voor en ons skud blad.
James vertel my dat hy sewe jaar gelede van Hun Chun in China na Kaapstad getrek het. Hy het in ’n rugby-aandenkingswinkel naby Nuweland gewerk en dis hiér waar die rugby-gogga hom behoorlik gebyt het. Hy is so gek oor Suid-Afrikaanse rugby dat hy drie Springbok-rugby­truie in sy kas het. Hy trek hulle gereeld aan.
James en sy swanger vrou, Lee Chen (30), woon deesdae in Langebaan en hulle geniet die Weskus se unieke karakters en die rustige plattelandse leefwyse wat hulle op dié dorp ervaar.
James wil só graag die Blou Bulle in lewende lywe sien speel.
Hy fluister dié taboe-ding aan my, want hy weet hy is in Stormerland.
Die puntjie van sy tong loer by sy ondeunde glimlag uit en sy oë flits deur die winkel – net om seker te maak ’n emosionele Stormer-fan het hom nie gehoor nie.
Ek vra oor die Afrikaanse musiek en hy pak ’n hoop CD’s op die toonbank uit. Een van sy werknemers het hom aan dié musiek voorgestel. Hy is veral lief vir Leon Schuster se liedjies oor rugby. Op ’n vals noot trek hy spontaan weg met ’n entoesiastiese: “Bokke! Bokke!” Hy slaan die lug opgewonde met sy vuis.
James en Lee sê hulle ongebore kindjie sal hiér skoolgaan. Hulle is natuurlik baie trots op hulle eie Chinese kultuur, so hulle kind sal beslis Chinees leer praat, maar ook Afrikaans en Engels. Dogtertjie of seuntjie?
James weet nog nie en verkies om eerder verras te wees wanneer sy kleintjie gebore word. Weens die een-kind-per-gesin-wet wat tot onlangs nog in China gegeld het, was dit onwettig om die geslag van die fetus te weet.
James is gek oor die unieke Afrikaanse kultuur en die taal. Hy werk elke dag aan sy woordeskat en hoop om eendag Afrikaans vlot te kan praat.
Dié man verdien erkenning vir sy toegewydheid aan Afrikaans want as ek Kombuis se woorde mag leen; “Ons wat die taal gooi, verdien om raakgesien te word deur die res van die planeet!”
Advertisements
Standard