Sprokiesliefde 38 jaar later

1660988_389044617902380_2028572680748036340_n 10478680_441195832687258_5423031305637694800_n
Net in die films …
Liefdesverhale soos Barry en Nicolene s’n klink amper soos ’n sprokie en mooi genoeg vir ’n romantiese draaiboek. Sleep die sneesdoekies nader, want dié ware verhaal bring hoop aan al die eensame siele wat glo daar bestaan vir almal op aarde ’n bestemde lewensmaat, opregte liefde en ewige geluk.
Nicolene Smuts (53) van Langebaan het nog altyd in ware liefde tussen ’n man en vrou geglo – ’n heilige band soos God dit wil hê – iets wat sy nie juis in haar verhoudings ervaar het nie. Sy was geskei en eensaam, maar nog steeds het sy vasgeklou aan haar geloof. Iewers op dié planeet, loop ’n man nét vir haar rond, die een wat nog altyd vir haar bedoel was.
Sy het verlede September besluit om ’n briefie aan die Here te skryf. Sy het hierin erken dat sy al baie foute in haar lewe gemaak het. Sy besef dat sy dalk haar ware liefde weens hardkoppigheid langs die pad misgeloop het. “Asseblief Here, as my ware Adam bestaan, bring hom na my toe.”
Sy het die briefie in haar Bybel gebêre by Genesis 2,18: “Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n metgesel maak, sy gelyke wat hom kan help.” Toe het sy op haar knieë gegaan en gebid.
In Desember 2013 is Nicolene se gebed verhoor. Barry Anderson (54), haar eerste kêrel, het haar toevallig op Facebook raakgesien. Hulle het begin gesels, ná ’n ongelooflike 38 jaar wat hulle geen kontak gehad het nie. Nicolene en Barry het mekaar as 15- en 16-jarige in die jeugsirkus ontmoet wat destyds deur die Kaap getoer het. Barry – ook geskei – was ’n sweefstokarties in die sirkus en Nicolene ’n sanger. “Ons was dadelik mal verlief op mekaar en het begin uitgaan. Dit was ’n diep opregte liefde, iets regtig spesiaal,” onthou Nicolene.
Ongelukkig het die twee jong verliefdes se ouderdom en omstandighede in daardie stadium gemaak dat hulle verskillende rigtings moes inslaan.
Nicolene het een foto van jong Barry gehad, wat sy veilig weggebêre het en oor die jare het sy dit soms uitgehaal, nostalgies geraak en gewonder wat van Barry geword het.
’n Week ná die Facebook-reünie, en verskeie sms-boodskappe later, het die twee afgespreek om mekaar in Langebaan te ontmoet.
Barry het onlangs aan Nicolene vertel dat hy baie senuweeagtig was oor dié eerste afspraak. Hy het gewig oor die jare aangesit en ’n paar plooie bygekry en was bang hy stel haar teleur, maar Nicolene was erg in haar noppies oor dié mooie man wat die Here vir haar gestuur het. “Toe Barry uit daai kar klim het ek geweet, my Adam het teruggekom.” Die res is geskiedenis, soos hulle sal sê.
Barry en Nicolene het in April vanjaar verloof geraak en trou op 16 Desember 2014 op die Impi-seiljag op die Langebaan-strandmeer. Daarna gaan hulle ’n groot makietie by Mykonos se Terrace hou.
Nicolene sê sy het die briefie aan Barry gewys en hy het toe met trane in sy oë gesê,“ek kan weer regop loop want my rib is nou terug.”
Standard

Bok-fan uit die Ooste gooi Afrikaans

James Song
Chinese hou van kung fu, chow mein en tegnologie.
Wat ’n cliché!
Suid-Afrikaners kyk almal rugby en braai elke Saterdagaand. Stereotiep? Sowaar!
Twee afgesaagde beelde, voosgery al die pad tot by die groot muur in China en terug na die Kaap waar die mammies – voortande skoonveld – op hul hakke loop.
Maar wat van ’n Afrikaanssprekende Chinees in ’n Springbok-rugbytrui? Ah! dink ek toe ek nader stap. Dís mos nou ’n kleurvolle mens waaruit besonderse leesstof geskep kan word. Maar wag, laat ek voor begin.
Ek het James (Dazhi) Song (32) die eerste keer in sy winkel by die Ipic-sentrum in Vredenburg gesien.
Ek was besig om rond te krap tussen die fieterjasies en kitsch ornamente, toe Kaptein Kurt Darren met sy strelende stem die seile oor die winkel se luidspreker begin span. Ek is pienk getiekel. Ek loer om die rak en sien ’n aantreklike jong Chinese man agter die kasregister staan. Kort geskeerde hare. Sagte, deernisvolle oë wat net so effens in die hoeke optrek. Hy is geklee in ons patriotiese groen en goud. Daar’s ’n springbokkie op sy bors en hy help sy kliënte – tot die beste van sy vermoë – in pragtige gebroke Afrikaans. Nou is ek eers beïndruk.
Ek gaan stel myself voor en ons skud blad.
James vertel my dat hy sewe jaar gelede van Hun Chun in China na Kaapstad getrek het. Hy het in ’n rugby-aandenkingswinkel naby Nuweland gewerk en dis hiér waar die rugby-gogga hom behoorlik gebyt het. Hy is so gek oor Suid-Afrikaanse rugby dat hy drie Springbok-rugby­truie in sy kas het. Hy trek hulle gereeld aan.
James en sy swanger vrou, Lee Chen (30), woon deesdae in Langebaan en hulle geniet die Weskus se unieke karakters en die rustige plattelandse leefwyse wat hulle op dié dorp ervaar.
James wil só graag die Blou Bulle in lewende lywe sien speel.
Hy fluister dié taboe-ding aan my, want hy weet hy is in Stormerland.
Die puntjie van sy tong loer by sy ondeunde glimlag uit en sy oë flits deur die winkel – net om seker te maak ’n emosionele Stormer-fan het hom nie gehoor nie.
Ek vra oor die Afrikaanse musiek en hy pak ’n hoop CD’s op die toonbank uit. Een van sy werknemers het hom aan dié musiek voorgestel. Hy is veral lief vir Leon Schuster se liedjies oor rugby. Op ’n vals noot trek hy spontaan weg met ’n entoesiastiese: “Bokke! Bokke!” Hy slaan die lug opgewonde met sy vuis.
James en Lee sê hulle ongebore kindjie sal hiér skoolgaan. Hulle is natuurlik baie trots op hulle eie Chinese kultuur, so hulle kind sal beslis Chinees leer praat, maar ook Afrikaans en Engels. Dogtertjie of seuntjie?
James weet nog nie en verkies om eerder verras te wees wanneer sy kleintjie gebore word. Weens die een-kind-per-gesin-wet wat tot onlangs nog in China gegeld het, was dit onwettig om die geslag van die fetus te weet.
James is gek oor die unieke Afrikaanse kultuur en die taal. Hy werk elke dag aan sy woordeskat en hoop om eendag Afrikaans vlot te kan praat.
Dié man verdien erkenning vir sy toegewydheid aan Afrikaans want as ek Kombuis se woorde mag leen; “Ons wat die taal gooi, verdien om raakgesien te word deur die res van die planeet!”
Standard

Pitkos vir my siel uit die Weskus, padkos vir môre …

Weskus 1

Hiér is iets wat ek lank terug geskryf het, in ‘n tyd wat my lewe redelik omgekrap was. My eerste reaksie toe ek die stuk vandag weer lees? Ek wou dadelik my redakteurhoed opsit en aan die ding begin krap. Maar toe onthou ek Esta Steyn se woorde nou die dag aan my toe sy haarself in ‘n soortgelyke situasie bevind het. “Ek kon dit net nie aan die meisie doen wat daardie stories geskryf het nie.” Daarom moes ek myself ook keer – met die uitsondering van ‘n sinnetjie hier en daar – want dié stukkie skryfwerk is ‘n kykie in my gebroke hart van gister. Dit is opreg. Dit is eerlik. Ek skryf nie meer so nie, maar ek mag nie aan dié stuk werk torring nie. Kusjka du Plessis het die pragtige foto’s verskaf. Besoek gerus http://kk-photography.com/author/kusjka/

Ek was nie hiér gebore nie, maar dis my plek dié. Ek was bestem vir die Weskus. Ek is oortuig my voorvaders en -moeders het duisende jare gelede hier op die Weskus gewoon. Hoe weet ek dit? As my kantoorvoetjies seerkry op die swart mat van stukkende mosselskulpe, die blinkblou hemel my verblind en daardie vars verrottende seewierreuk my oorweldig weet ek, ek het terug huistoe gekom. My Weskus is meer as net ‘n gevoel dat ek hiér hoort. Die plek praat met my in ‘n taal wat ouer is as Van Riebeeck se tyd toe Saldanhabaai ‘n veilige hawe vir skepe in nood was, selfs miskien ouer as die tyd toe net die Khoi die Weskus geken het. My Weskus praat ‘n oertaal met my en sy praat saggies. As jy nie mooi luister nie, sal jy haar nooit verstaan of waardeer nie. Ek voel deel van haar en wanneer ek op haar ongerepte strande loop en oor glibberige, grys gladde rotse klouter na vergete baaitjies, my voete steekpyne kry van die yskoue donker water, voel ek naby aan haar.

My Weskus voel ewig en tyd verloor sy betekenis. Sy is deel van haar mense en van my, sy is verweef in my selle, bloed en gees. Sy klop diep binne in my. My Weskus is my inspirasie as ek vaal, leeg en onoorspronklik voel. Sy is kleur as jy dit net wil sien. Sy is die mooiste, delikaatste geel of pers blommetjie in eindelose suidoos-verwaaide vlaktes. Sy is die kaalvoet-kind in my, my onthou aan lekkerte, liefde en seerkry. Haar smaak is onvergeetbaar uniek en plat op die aarde. As jy haar eers ken, sal jou hart jou altyd terugbring.

Soms as dinge verkeerd voel, as die boksie square is en ek is rond, kan ek net buite in die veld, op die grond, in die stof, tussen die goggatjies en Fynbos myself weer vind. Niemand is soos ek nie en ek kan nie help om te voel dat ek iewers iets mis nie, maar my Weskus laat my altyd weer deel voel van ‘n groter gedagte. Daar is miskien tog ‘n doel in al hierdie chaos wat ons die lewe noem. Daar is hoop dat elke mens se lewe betekenis het, dat almal iets spesiaal het om by te dra.

Die dag toe ek kwaad en ontstoke op die strand myself gaan vind het, sien ek die onreëlmatige golwe, swart en massief wat die ruwe kus met woede tref. Só hard soos donderweer. En ek weet, ek en my Weskus is vandag pragtig in harmonie. Sy laat my toe dadelik rustig word, want ek weet, dis beautiful hier en dis mý plek.

‘n Stemmetjie diep binne my sê: Wat jou nie dood maak nie, maak jou sterk. ‘n Swart Suid-Oos druk my al regser en laat my oë traan, of dalk was dit my hart se trane. Kan nie onthou nie. Ek het ‘n boemelaar in Velddrif ontmoet daai dag. Miskien was hy gestuur om my te laat besef dat ek eindelose blessings het. Ek was te moeg om op te staan toe hy langs my kom neerval. Wat ‘n openbaring toe ek besef dat hier waar ons sit – ons nie veel anders is nie, ook maar net mens. Weskus se verlore kinders. Hy soek na sy seun. Sy vrou is oorlede en hy het sy lewe weggesuip.

Ek het gesien hoe vang ‘n man ‘n vis en al was dit ‘n kleintjie, was die opgewondenheid in sy oë iets wat ek ook met my hele hart begeer. Alweer ‘n les dat klein dingetjies die belangrike goeters in die lewe is. Dís nou die stuff waaroor ons eintlik moet bly raak.

Al gesien hoe sielsgelukkig is ware Weskussers? Hulle verstaan die see. Hulle snap die lewe. Hulle stres nie oor die klein k**kies nie – Ekskuus my Weskus-Frans!

Ek was nie hiér gebore nie, maar dis my plek dié. Ek is seker my voorvaders was ware Weskussers en dis waarom ek weer hier beland het. Dis my plek. Dis my siel se plek.

Elke dag luister ek na haar en ek ruik haar varsheid. Haar ongelooflike sonsonsondergange en semi-woestyn-horisonne is niks minder as die mooiste mooi nie. Sy leer my iets nuut oor die lewe elke dag en as ek ‘n goeie student is, sal ek ook beloon word met ware Weskus kaalvoet-happiness.

Weskus 7 Weskus 6  Weskus 4 Weskus 3 Weskus 2

Standard

Op ‘n woordreis om kos te ontdek, saam met Niël Stemmet

Niel Ek het onlangs die geleentheid gekry om Niël Stemmet se nuwe boek, agter+blad, saam met ‘n paar gaste by ‘n glansgeleentheid in Langebaan te vier. Hier is my ervaring van die heerlike middag … in my eie woorde. Oordenkinge uit my eie ek, wat weet waarna ek soek. (Dankie vir jou insig Niël en dié woorde wat nou ook myne is, ons almal s’n is.) Ek pak my eetlus en my verbeelding in. My maag is leeg en my siel is honger. Hiér sit ek aan Isabella Niehaus se langtafel op die duin in Langebaan. Mes en vurk ferm in ‘n klemgreep. Ek is gereed vir die gastronomiese reis. My eindbestemming is erfeniskos, smake wat stories uit ons volk se geskiedenis oproep, geure wat ons moet koester en resepte wat ons bewaar vir ons kinders se kinders. My vervoer soontoe? ‘n Verbeeldingsvlug saam met ‘n über-talentvolle woordkunstenaar wat uit skynbaar niksseggende letters ‘n pragtige brug bou, na die wese van sy filosofiese uitkyk op kos. Ek sien soos hy sien, met woorde. Nie myne nie, maar syne. Ek reis op die wind wat vol woorde is, Niël Stemmet se eie neergepende woorde, oor woorde. Die gasvroue, Isabella Niehaus en Marinda Engelbrecht, sit die hoofgereg voor. Die kleurvolle borde kos se geure is onweerstaanbaar. In een van Niël agterblad-rubrieke in die tydskrif, Tuis het hy geskryf dat ek myself kan stil maak met woorde. En hier sit ek nou – tussen mense wat lag, gesels, wyn drink – en ek probeer stil raak in die teenwoordigheid van die kos voor my. Niël inspireer my om oor elke proetjie na te dink … met mý woorde. Niël moedig die gaste aan om maar solank weg te val terwyl hy uit sy nuwe boek, agter+blad voorlees. Daar word egter maar min geëet, want sy woordreis na die lekker ou dae en gister se saamkuier om kreunende tafels vol spys en drank – erfeniskos die fokus hiér – boei hulle selfs meer as die honger, in hierdie nostalgiese oomblik. En dan dink ek aan die manier hoe hy homself op sy blog bekendstel: “Vandag, eintlik nog altyd, het ek idees oorgedra aan ander, resepte, stories, vertellings, omdat ek glo dat kinders stories moet ken en moet weet waar die tradisie van erfeniskos vandaan kom.” ’n Beskeie woordkeuse vir ’n man met ’n CV wat selfs wêreldberoemde kospersoonlikheid, Jamie Oliver, sal laat bloos. Hy het meer as 25 jaar ervaring in die restaurant- en gasvryheidsbedryf. Niël is ook ’n binnenshuise ontwerper, versamelaar en kurator. Maar woorde en kos bly Niël se groot liefdes en ’n kombinasie van dié twee, is beslis ’n resep vir honger word. Hoekom spreek Niël se skryfwerk op só ‘n intieme vlak met mense? Hiér is my teorie … Wanneer dit voel of die sekondewyser besig is om spoed op te tel, wat het ons anders as kosbare herinneringe om ons te vertroos? Ons het kos, lieflike onthoukos, wat ons met warmte en nostalgie omhels, wanneer die wete dat ons broos en sterflik is, ons in die gesig staar. Koesterende kos is ons tydmasjien waarmee ons na gister kan reis, oor môre kan droom. Kos. ‘n Oomblik se wonder. ‘n Paar kort minute van grootoog-ekstase. Elke hap is ‘n euforiese reis na feillose liefde, onbeskryflike vertroeteling, en amper-heilige betekenis. Ná elke mondvol hunker ons na nog, maar dan volg die ontnugtering wat te gou gekom het. ‘n Vurk krap skril op kaal keramiek. Die bord is leeg. En só is die lewe ook. Onbeskryflik fenominaal, maar vlietend soos ‘n pragtige verskietende ster, is dit hopeloos te vinnig verby. Só vinnig was my lieflike middag aan die langtafel ook verby. Isabella, modekenner, outeur en spysenier het haar pragtige huis – wat sy baie beskeie haar khaya noem – vir dié onvergeetlike geleentheid beskikbaar gestel en het saam met Marinda, bekende regisseur en onthoukok van die eerste seisoen van Kokkedoor, die kospotte beman. Niel 1 Niel 2 Niel 3 Niel 4 Niel 5 (2) Niel 5 Niel 7 Niel 8 Niel 9 Niel 10 Niel 11 Niel 12 Niel 13 Niel 14 Niel 15 Niel 16 Niel 17 Niel 18 Niel 19 Niel 20 Niel 21 Niel 22 Niel 23 Niel 25 Niel 26 Niel 27 Niel 28

Standard

Raaisels opgelos by Kokkedoor-ete in Langebaan

kok 9So in die gees van vanaand se Kokkedoor-finaal op kykNET, deel ek graag ‘n paar fototjies wat ek by die Kokkedoor-raaiselete in Langebaan geneem het:
Raai, raai …
Wie het met ’n gepekelde tong op sy skoot in die bus gery?
Wie het ’n staaltjie uit die huishoudkundeklas vertel? Wie het kamma ’n marshmallow-hartjie?
Raai, raai … Aan wié behoort dié raaisels? Aan Marius Uys, Johnny Hamman en Alet van der Westhuizen, finaliste van kykNET se tweede seisoen van die gewilde realiteitskookprogram, Kokkedoor.
Dié drie Kokkedoor-sterre, asook Orscilla Hitchcock, Linde Watson, Josia Conradie, Langebaan se eie Leroux van Vuuren en beoordelaar, Hetta van Deventer-Terblanche het hul aanhangers in Langebaan die eksklusiewe geleentheid gebied om hulle in lewende lywe te sien.
Die Kokkedore het hul gaste by die Kokkedoor-raaiselete te Lekka-by-die-See Restaurant met interessante agter-die-skerm-raaisels, verbasende lekker-lag-antwoorde en heerlike kos uit die Kokkedoor-kombuis vermaak.
Raai, raai … Wie kraai koning in die Kokkedoor-kombuis? Is dit Elsa en Johnny of Chris en Marius? Vanaand word die belangrikste Kokkedoor-raaisel opgelos.
kok 13Kok 1Kok 2kok 10KOK 19KOK 20KOK 22KOK 21kok 77kok 6Kok 55kOK 117kok 44kok 33
kOK 155
Standard

Skrywer vind ubuntu op die Weskus

Ubuntu%201_1_0_727739917’n Eienaardige wit vrou op ’n vreemde sending.
Dít was die eerste indruk wat Sonja Kruse op Maryam Alie van Langebaan gemaak het. Sonja wou slaapplek hê, kos en kennis. Sy was glo op ’n reis om ubuntu te vind.
Ubuntu is volgens die Handboek van die Afrikaanse Taal (HAT) ’n Nguni-woord wat ’n lewensingesteldheid van medemenslikheid, hulpvaardigheid en barmhartigheid beteken.
Maryam was half skrikkerig vir die vreemdeling, maar haar joviale man, oorlede Mogamat-Armien, het vir Sonja onmiddellik binnegenooi.
Nou, vier jaar later, het Sonja teruggekeer na die Alie-gesin se huisie in Seaview Park soos sy belowe het, en sy het ’n eksemplaar van haar besonderse nuwe boek, The Ubuntu Girl, saamgebring . In dié boek, met meer as 900 volkleurfoto’s, het Sonja haar jaarlange reis na die nege provinsies – met net ’n rugsak en R100 – gedokumenteer. Sy het ubuntu by 150 gesinne in 114 gemeenskappe en oor 16 kulture waar sy tuisgegaan het, gevind.
Vir Sonja se langverwagte terugkeer na Langebaan, het Maryam ’n tafel wat kreun onder heerlike eetgoed voorberei en ’n paar spesiale vriende oorgenooi.
“Ek erken ek het eers gedink sy is weird,” terg Maryam en druk Sonja, nou ’n goeie vriendin, spontaan teen haar vas. “Ek is nou baie lief vir haar.”
Dis ’n emosionele oomblik vir Maryam. Haar oë blink van die trane toe Sonja die boek aan haar oorhandig. Maryam blaai na bladsy 71. Die kop lees: No Wrong People. In memory of Mogamat Armien Alie (12.08.1958–02.05.2011).
“Ons is só trots op jou Sonja,” sê sy. “En ek weet Armien sou nét so trots gewees het. Hy kon nooit uitgepraat raak oor jou nie.” Maryam se man is in 2011 aan ’n hartaanval oorlede.
.So, het die Weskus genoeg ubuntu?
Ja, ja, ja! sê Sonja. In Velddrif, Paternoster, Saldanha en by verskeie ander gesinne van Langebaan het Sonja verdraagsaamheid, menslikheid en barmhartigheid oor kleur- en kultuurgrense beleef, om nie eers te praat van ’n bed en lekker kos nie. Sy is hartseer oor die beweerde rassespanning in Paternoster en hoop die boek wat sy verlede Woensdag by die Jordaan-gesin gaan afgee het, sal wyd in die dorp gelees word sodat die boodskap wat The Ubuntu Girl bring, iets vir die verdeelde gemeenskap sal beteken.
Woede, selfs dalk ’n tikkie vrees en ongemak, is die emosies wat Sonja by die leser met haar ware verhale wil wek. The Ubuntu Girl is nie nét ’n goedvoelstorie nie, maar ook ’n verhaal wat veronderstel is om ongemaklike gesprekke aan die gang te sit, sodat kultuurgrense oorbrug kan word.
Sonja is tans besig met ’n nuwe reis, ’n terugtog na al die gesinne by wie sy gebly het. Elkeen van hulle sal ’n boek ontvang.
Ubuntu%2022_1_0_727740099
Standard

Skatte op die asgat én in die hemel

Dory Dolf Nog een van my gunsteling mensestories wat ek vir  Weslander geskryf het:
 Agter Langebaan se vaal sandbedekte rommelhope is ’n versteekte oase.
Daar brand ’n vuurtjie in die braaikonka waarom ’n verslete bruin sitkamerstel gerangskik is.
Dory Dolf is besig met middagete. Sy trek ’n plastiekkrat nader, gaan sit fyntjies – ’n wafferse dame – en vou haar dun beentjies, nogal ewe in visnetkouse, soos ’n koeksister oor mekaar. Dan hou sy haar klein skurwe handjies oor die hitte van die gloeiende kole. Mens kan sien sy is netjies op haarself. Haar wit bloesie is silwerskoon en lyk amper of dit net ’n paar kort ure gelede onder ’n warm strykyster deur is. “Ons eet nie van die dump af nie,” sê sy. “Ons gaan koop ’n kossie en kom maak dit hiér gaar.”
Sy trek haar krat nader aan die konka sodat sy kan werk. Daar is pap in die swart gebrande pot met die skewe deksel – dalk in ’n vorige lewe ’n spoggerige blink pot in ’n Myburghpark-huis gewees. Langsaan in die vaalgebrande blik begin die koffiewater klein blink borreltjies maak. Die warmwaterfles staan reg. Dory is al ’n groot vrou, soos die volk sal sê. Haar kinders is lankal opgegroei, haar trots. Hulle woon in die Burg, vertel sy en roer die pap met ’n fyn polsbeweging al in die rondte. Vir die helfte van die jaar bly sy hiér op die asgat in die Baan om geld te maak, en as die reënmaande kom gaan sy Vredenburg toe, na haar huis toe. “Maar natuurlik het ek ’n huisie,” sê sy ietwat vererg, maar glimlag darem.
Die plooitjies langs haar koffiekleurige kraalogies verklap haar jare en agter dié sielvolle kraaltjies is iemand met hart, met deernis, intelligensie, selfs ’n tikkie humor. Want oor háár harde lewe moes sy leer om te lag. Die meetsnoere het nog altyd op lieflike plekke vir ánder mense geval en van lugkastele bou weet sy niks. Dis mos iets wat nét die rykes doen.
Maar elke nag as Dory en haar lewensmaat, Ricky, op hulle opteldubbelbed onder die gevlekte duvet inkruip en na die melkweg se wasige spoor oor die oneindige hemelgewelf staar, weet sy die heelal het nie heeltemal van hulle vergeet nie. Dié ashoop is ’n gebed wat verhoor is nadat Ricky sy werk verloor het, want hiér kan hulle ’n lewe uit ander mense se weggooigoed maak.
Swaarkry het hulle geseën met ’n spesiale geskenk, om skatte op dié rommelwoestyn te kan raaksien. ’n Leë koeldrankblikkie, ’n stuk staaldraad of ’n ou geroeste koperslot, alles word voor hulle oë, eensklaps, abra kadabra!, ka-ching!, sommer nét so, ’n klompie Madibas in ’n stukkende broeksak. ’n Stukkie brood, ’n bietjie pap, ’n eiertjie as hulle dit kan bekostig. En só oorleef hulle nóg ’n dag. Maar die belangrikste lewensles wat die ashoop vir haar en Ricky geleer het, is dat geld nét geld is en goeters nét goeters. Hulle regte skatte maak hulle in die hemel bymekaar.
Net duskant Dory se veldkombuis ontwaak Kleinmeidjie en Gorris in hulle omgekeerde plastiekvullisdrom. Die twee basterbrakkies gaap en rek hulle hondebeentjies lank uit voor hulle uit hulle slaapplek kruip en mekaar spelerig aan die ore begin byt. Dory en Ricky maak hulle groot, want mense van die dorp het hulle eenvoudig hiér kom weggooi. Sy sou hulle die volgende dag huis toe vat, want sy ruik reën. Sy het ook gesê sy gaan ’n klong betaal om die sitkamerstel en die dubbelbed op ’n bakkie vir haar Vredenburg toe te vat, want met dié skatte gaan sy haar huis loop mooi maak.
Honde
Standard