Pitkos vir my siel uit die Weskus, padkos vir môre …

Weskus 1

Hiér is iets wat ek lank terug geskryf het, in ‘n tyd wat my lewe redelik omgekrap was. My eerste reaksie toe ek die stuk vandag weer lees? Ek wou dadelik my redakteurhoed opsit en aan die ding begin krap. Maar toe onthou ek Esta Steyn se woorde nou die dag aan my toe sy haarself in ‘n soortgelyke situasie bevind het. “Ek kon dit net nie aan die meisie doen wat daardie stories geskryf het nie.” Daarom moes ek myself ook keer – met die uitsondering van ‘n sinnetjie hier en daar – want dié stukkie skryfwerk is ‘n kykie in my gebroke hart van gister. Dit is opreg. Dit is eerlik. Ek skryf nie meer so nie, maar ek mag nie aan dié stuk werk torring nie. Kusjka du Plessis het die pragtige foto’s verskaf. Besoek gerus http://kk-photography.com/author/kusjka/

Ek was nie hiér gebore nie, maar dis my plek dié. Ek was bestem vir die Weskus. Ek is oortuig my voorvaders en -moeders het duisende jare gelede hier op die Weskus gewoon. Hoe weet ek dit? As my kantoorvoetjies seerkry op die swart mat van stukkende mosselskulpe, die blinkblou hemel my verblind en daardie vars verrottende seewierreuk my oorweldig weet ek, ek het terug huistoe gekom. My Weskus is meer as net ‘n gevoel dat ek hiér hoort. Die plek praat met my in ‘n taal wat ouer is as Van Riebeeck se tyd toe Saldanhabaai ‘n veilige hawe vir skepe in nood was, selfs miskien ouer as die tyd toe net die Khoi die Weskus geken het. My Weskus praat ‘n oertaal met my en sy praat saggies. As jy nie mooi luister nie, sal jy haar nooit verstaan of waardeer nie. Ek voel deel van haar en wanneer ek op haar ongerepte strande loop en oor glibberige, grys gladde rotse klouter na vergete baaitjies, my voete steekpyne kry van die yskoue donker water, voel ek naby aan haar.

My Weskus voel ewig en tyd verloor sy betekenis. Sy is deel van haar mense en van my, sy is verweef in my selle, bloed en gees. Sy klop diep binne in my. My Weskus is my inspirasie as ek vaal, leeg en onoorspronklik voel. Sy is kleur as jy dit net wil sien. Sy is die mooiste, delikaatste geel of pers blommetjie in eindelose suidoos-verwaaide vlaktes. Sy is die kaalvoet-kind in my, my onthou aan lekkerte, liefde en seerkry. Haar smaak is onvergeetbaar uniek en plat op die aarde. As jy haar eers ken, sal jou hart jou altyd terugbring.

Soms as dinge verkeerd voel, as die boksie square is en ek is rond, kan ek net buite in die veld, op die grond, in die stof, tussen die goggatjies en Fynbos myself weer vind. Niemand is soos ek nie en ek kan nie help om te voel dat ek iewers iets mis nie, maar my Weskus laat my altyd weer deel voel van ‘n groter gedagte. Daar is miskien tog ‘n doel in al hierdie chaos wat ons die lewe noem. Daar is hoop dat elke mens se lewe betekenis het, dat almal iets spesiaal het om by te dra.

Die dag toe ek kwaad en ontstoke op die strand myself gaan vind het, sien ek die onreëlmatige golwe, swart en massief wat die ruwe kus met woede tref. Só hard soos donderweer. En ek weet, ek en my Weskus is vandag pragtig in harmonie. Sy laat my toe dadelik rustig word, want ek weet, dis beautiful hier en dis mý plek.

‘n Stemmetjie diep binne my sê: Wat jou nie dood maak nie, maak jou sterk. ‘n Swart Suid-Oos druk my al regser en laat my oë traan, of dalk was dit my hart se trane. Kan nie onthou nie. Ek het ‘n boemelaar in Velddrif ontmoet daai dag. Miskien was hy gestuur om my te laat besef dat ek eindelose blessings het. Ek was te moeg om op te staan toe hy langs my kom neerval. Wat ‘n openbaring toe ek besef dat hier waar ons sit – ons nie veel anders is nie, ook maar net mens. Weskus se verlore kinders. Hy soek na sy seun. Sy vrou is oorlede en hy het sy lewe weggesuip.

Ek het gesien hoe vang ‘n man ‘n vis en al was dit ‘n kleintjie, was die opgewondenheid in sy oë iets wat ek ook met my hele hart begeer. Alweer ‘n les dat klein dingetjies die belangrike goeters in die lewe is. Dís nou die stuff waaroor ons eintlik moet bly raak.

Al gesien hoe sielsgelukkig is ware Weskussers? Hulle verstaan die see. Hulle snap die lewe. Hulle stres nie oor die klein k**kies nie – Ekskuus my Weskus-Frans!

Ek was nie hiér gebore nie, maar dis my plek dié. Ek is seker my voorvaders was ware Weskussers en dis waarom ek weer hier beland het. Dis my plek. Dis my siel se plek.

Elke dag luister ek na haar en ek ruik haar varsheid. Haar ongelooflike sonsonsondergange en semi-woestyn-horisonne is niks minder as die mooiste mooi nie. Sy leer my iets nuut oor die lewe elke dag en as ek ‘n goeie student is, sal ek ook beloon word met ware Weskus kaalvoet-happiness.

Weskus 7 Weskus 6  Weskus 4 Weskus 3 Weskus 2

Standard

Bra’s, broekies, bloemers en brandewyn

Panty Bar Paternoster
Elke deurtrekkertjie, buustelyfie, panty , onderbroek en bloemer teen die legendariese Panty Bar se muur, vertel ’n storie.
 
Dié kroeg by die bekende ou hotel op Paternoster is beslis uniek.
’n Berese rubriekskrywer van die Sports Illustrated-tydskrif het ook so gedink, want in 2007 het hy ’n lys saamgestel van die uniekste kroeë ter wêreld. Paternoster se Panty Bar was onder die top vyf.
Volgens Johan Carosini, eienaar van die hotel, het hy een aand in 1973 saam met ’n bruidspaartjie na hul troue in die kroeg gekuier, toe ’n blink idee hom bygeval het.
Hy het die bruid gevra of hy haar “wittebroods-panty” teen die dak kan hang. Só het die eerste broekie sy plekkie in die kroeg gekry. Die versameling het vinnig gegroei. ’n Bruidegom het Carosini selfs een aand bygedam toe hy ’n bruidjie vir haar broekie gevra het.
Teen 1983 was die kroeg vol onderklere en mense het na die Panty Bar gestroom om dié stoute tentoonstelling te aanskou.
Bekendes soos die storieverteller, Tolla van der Merwe, oud-president FW de Klerk, bekende sanger en akteur Gé Korsten, Springbok-rugbyspelers en -breiers en verskeie ministers het al oor die jare die Panty Bar se drumpel deurgetrap.
“Daar is te veel om op te noem,” het Carosini gespog. “As die liewe onse Vader Homself ’n draai hier sal kom maak, kan ek met sekerheid sê, almal wat bekend is was al hier.” Hy het gelag. Tog het die Vader volgens Carosini eintlik nog altyd ’n ogie oor die hotel gehou. “Hier is regtig ’n hoër hand betrokke en daarvoor is ons dankbaar.”
Die Panty Bar se sukses-storie is nie sonder ’n goeie dosis terugslae nie. In die vroeë 1980’s het ’n predikant van die NG Kerk Vredenburg tee by die hotel gedrink en deur die kroeg na die toilette gestap. “Sy oë was so groot soos pierings,” het Carosini gelag. Skaars twee ure later het drie “blou baadjies” aan die hotel se deur kom klop. Een van hulle was kapt Kwaaitjie Laubscher. Hy was glo erg verleë om Carosini, ’n goeie pêl van hom, te vra om die onderklere uit die kroeg te verwyder.
’n Uitgerekte hofsaak later is die broekies en bra’s met ’n swaar hart van die plafon verwyder en gebêre.
Carosini kon nie verstaan hoekom poppe in winkelventers met onderklere kan staan en pronk nie, terwyl hy nie toegelaat was om broekies in sy kroeg te hang nie. Hy glo poppe is tog meer verleidelik, met hul kurwes en al. Tot vandag toe nog staan die polisieman wat die saak teen Carosini gedryf het, bekend as ou Panty Basson.
In die 1990’s, ná gemoedere oor die berugte Panty Bar afgekoel het, het Carosini se seun, Giorello Carosini, weer met ’n panty-versameling in die kroeg begin.
Dié slag is daar nie boe of ba oor die kroeg gesê nie en diegene wat wel iets sleg oor die onderklere te sê gehad het, moes volgens Carosini maar net eenvoudig uit die kroeg uit bly. “Die res is geskiedenis,” het hy bygevoeg.
Carosini het beduie na ’n tamaai wit bloemer met rooi teks voorop, wat soos ’n seer vinger tussen die netjiese fyn deurtrekkerjies uitstaan. ’n Groterige Hollande vrou wat by die hotel gekuier het, het hom glo gebel en hom gevra of sy ook haar G-string vir hom kan stuur. Carosini het gelag “en daar hang hy nou”. Dié bloemer is glo een van sy gunsteling items. Tog verkies hy en Giorello nie bloemers, onderbroeke en bra’s in die kroeg nie. Hulle fokus op deurtrekkers.
“As dit nou ’n mooi bra, van ’n mooi girl af is, dan is die saak reg,” maar gewoonlik word die onderklere wat nie aan vereistes voldoen nie gereeld verwyder soos die versameling groei. Die broekies word ook elke maand afgehaal en gewas voor hulle weer netjies opgehang word.
Standard