Pitkos vir my siel uit die Weskus, padkos vir môre …

Weskus 1

Hiér is iets wat ek lank terug geskryf het, in ‘n tyd wat my lewe redelik omgekrap was. My eerste reaksie toe ek die stuk vandag weer lees? Ek wou dadelik my redakteurhoed opsit en aan die ding begin krap. Maar toe onthou ek Esta Steyn se woorde nou die dag aan my toe sy haarself in ‘n soortgelyke situasie bevind het. “Ek kon dit net nie aan die meisie doen wat daardie stories geskryf het nie.” Daarom moes ek myself ook keer – met die uitsondering van ‘n sinnetjie hier en daar – want dié stukkie skryfwerk is ‘n kykie in my gebroke hart van gister. Dit is opreg. Dit is eerlik. Ek skryf nie meer so nie, maar ek mag nie aan dié stuk werk torring nie. Kusjka du Plessis het die pragtige foto’s verskaf. Besoek gerus http://kk-photography.com/author/kusjka/

Ek was nie hiér gebore nie, maar dis my plek dié. Ek was bestem vir die Weskus. Ek is oortuig my voorvaders en -moeders het duisende jare gelede hier op die Weskus gewoon. Hoe weet ek dit? As my kantoorvoetjies seerkry op die swart mat van stukkende mosselskulpe, die blinkblou hemel my verblind en daardie vars verrottende seewierreuk my oorweldig weet ek, ek het terug huistoe gekom. My Weskus is meer as net ‘n gevoel dat ek hiér hoort. Die plek praat met my in ‘n taal wat ouer is as Van Riebeeck se tyd toe Saldanhabaai ‘n veilige hawe vir skepe in nood was, selfs miskien ouer as die tyd toe net die Khoi die Weskus geken het. My Weskus praat ‘n oertaal met my en sy praat saggies. As jy nie mooi luister nie, sal jy haar nooit verstaan of waardeer nie. Ek voel deel van haar en wanneer ek op haar ongerepte strande loop en oor glibberige, grys gladde rotse klouter na vergete baaitjies, my voete steekpyne kry van die yskoue donker water, voel ek naby aan haar.

My Weskus voel ewig en tyd verloor sy betekenis. Sy is deel van haar mense en van my, sy is verweef in my selle, bloed en gees. Sy klop diep binne in my. My Weskus is my inspirasie as ek vaal, leeg en onoorspronklik voel. Sy is kleur as jy dit net wil sien. Sy is die mooiste, delikaatste geel of pers blommetjie in eindelose suidoos-verwaaide vlaktes. Sy is die kaalvoet-kind in my, my onthou aan lekkerte, liefde en seerkry. Haar smaak is onvergeetbaar uniek en plat op die aarde. As jy haar eers ken, sal jou hart jou altyd terugbring.

Soms as dinge verkeerd voel, as die boksie square is en ek is rond, kan ek net buite in die veld, op die grond, in die stof, tussen die goggatjies en Fynbos myself weer vind. Niemand is soos ek nie en ek kan nie help om te voel dat ek iewers iets mis nie, maar my Weskus laat my altyd weer deel voel van ‘n groter gedagte. Daar is miskien tog ‘n doel in al hierdie chaos wat ons die lewe noem. Daar is hoop dat elke mens se lewe betekenis het, dat almal iets spesiaal het om by te dra.

Die dag toe ek kwaad en ontstoke op die strand myself gaan vind het, sien ek die onreëlmatige golwe, swart en massief wat die ruwe kus met woede tref. Só hard soos donderweer. En ek weet, ek en my Weskus is vandag pragtig in harmonie. Sy laat my toe dadelik rustig word, want ek weet, dis beautiful hier en dis mý plek.

‘n Stemmetjie diep binne my sê: Wat jou nie dood maak nie, maak jou sterk. ‘n Swart Suid-Oos druk my al regser en laat my oë traan, of dalk was dit my hart se trane. Kan nie onthou nie. Ek het ‘n boemelaar in Velddrif ontmoet daai dag. Miskien was hy gestuur om my te laat besef dat ek eindelose blessings het. Ek was te moeg om op te staan toe hy langs my kom neerval. Wat ‘n openbaring toe ek besef dat hier waar ons sit – ons nie veel anders is nie, ook maar net mens. Weskus se verlore kinders. Hy soek na sy seun. Sy vrou is oorlede en hy het sy lewe weggesuip.

Ek het gesien hoe vang ‘n man ‘n vis en al was dit ‘n kleintjie, was die opgewondenheid in sy oë iets wat ek ook met my hele hart begeer. Alweer ‘n les dat klein dingetjies die belangrike goeters in die lewe is. Dís nou die stuff waaroor ons eintlik moet bly raak.

Al gesien hoe sielsgelukkig is ware Weskussers? Hulle verstaan die see. Hulle snap die lewe. Hulle stres nie oor die klein k**kies nie – Ekskuus my Weskus-Frans!

Ek was nie hiér gebore nie, maar dis my plek dié. Ek is seker my voorvaders was ware Weskussers en dis waarom ek weer hier beland het. Dis my plek. Dis my siel se plek.

Elke dag luister ek na haar en ek ruik haar varsheid. Haar ongelooflike sonsonsondergange en semi-woestyn-horisonne is niks minder as die mooiste mooi nie. Sy leer my iets nuut oor die lewe elke dag en as ek ‘n goeie student is, sal ek ook beloon word met ware Weskus kaalvoet-happiness.

Weskus 7 Weskus 6  Weskus 4 Weskus 3 Weskus 2

Advertisements
Standard

Oom Henry vertel van reuse krewe en die SAUK se Royal-tikmasjien

Henry Novella 21HENRY Novella (83) is so sinoniem met die Weskus soos snoek en die sê-ding: “nou maar toe!”
Dié oud-voedselinspekteur het ook sy merk gemaak in Afrikaanse kinderliteratuur en het in die begindae van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) saam met ou bekendes gewerk.
Die Novellas op die Weskus is die afstammelinge van ’n Noorweegse vishandelaar, Carl Stephan se Europese werknemers wat aan die einde van die negentiende eeu hulle aan die Weskus gevestig het. Ander bekende Weskusvanne soos Tallie, Nimb, Carosini, Fioravante en Dipaola is ook afkomstig van Stephan se werkers.
Hy is op 17 Augustus 1930 in Slippersbaai, St Helenabaai gebore. Henry en sy jonger suster Rona, is in St Helenabaai deur hulle ma Bennie en Pa Hentas grootgemaak.
Dit was ’n ander tyd, ’n tyd toe Velddriwwers nog die Bergrivier met ’n pont moes oorsteek en mense gedink het die see sal altyd bly gee, dat haar skatte nooit kan opraak nie.
Reuse krewe is by die dosyne daagliks onder rotse in die baaitjies uitgehaal, “’n ondermaatkreef het nie bestaan nie en vis was volop” onthou hy.
By Slippersbaai, waar Laingville vandag is, staan vier ou vissershuisies teen die see, wat vandag nog aan die Novellas behoort.
Henry se pa Hentas en sy drie broers en hulle gesinne was van die eerste vissersmense wat hulle hier op St Helenabaai kom vestig het.
Henry was van sub A tot std 6 (vandag se graad 8) in ’n plaaskooltjie met net 30 leerders. In std 6 het hy sy eerste kinderstorie geskryf wat in die Klein Burger gepubliseer is.
Van std 7 tot matriek was hy in Hoërskool Vredenburg se Esperanza-koshuis, wat vandag die ArcelorMittal-Wetenskapsentrum is. Hy en sy koshuismaats het op lui-lekker warm somersdae in die dammetjie langs Huis Wittekruin in Welgemoedstraat afgekoel.
“Daai tyd was daar net koringlande om die dam.” Die bekende oud-Springbok rugbyspeler, Butch Lochner, was een van Henry se klasmaats en Butch se pa, Jannie Lochner, was skoolhoof in die tyd toe Henry daar op skool was.
Na skool het Henry vir ’n ingenieursfirma gewerk wat die jetty by West Point in St Helenabaai gebou het. Henry was ’n duiker wat sementblokke onder die water moes pak.
Hy onthou die swaar duikpak met die koperskoene, loodbeld en “maanmannetjie helmet” nog baie goed.
Tussendeur het Henry altyd tyd gemaak vir sy kinderverhale. Hy het gereeld stories vir Siembamba geskryf, ’n radioprogram vir kinders op die Afrikaanse diens.
Terwyl Henry as bemarkingsbeampte vir die departement landbou en tegniese dienste in Kaapstad gewerk het, het Max du Plessis van die SAUK se kantore in Riebeekstraat hom gebel en vir hom ’n werk as byklanke-organiseerder aangebied.
Henry was vir die volgende vier jaar in beheer van die agtergrond- en byklanke tydens opnames van verhale op 78-spoed-plate en later 33½spoed-plate. Later het hy klanke vir regstreekste verhale oor die radio gedoen.
Hy het saam met ’n hele paar ou bekendes in die uitsaaibedryf gewerk, ondermeer Dolf van Niekerk, Danie van Eeden, Basie Hanekom en Morkel van Tonder. Baie van die klanke wat tydens die Tweede Wêreldoorlog opgeneem is, soos masjiengewere en kanonne, is in die stories gebruik.
By Leeukop het Henry en sy span die geluid van ’n rotsstorting nagemaak deur klippe van die kop af te laat afrol en dit dan op te neem.
Een middag met ’n regstreekse uitsending was hy en sy kollega Jasper Siebrits in groot moeilikheid toe een van die byklankplate skoonveld was.
’n Vrou, wat een van die stemme in die storie was, was skielik so paniekerig toe die regte klank nie op die regte tydstip speel nie, dat sy per ongeluk die mikrofoon by die klankspan se ateljee aangeskakel het.
“O donner, hier lê die ongeluk op die tafel,” het Siebrits aan die hele volk se luisteraars verkondig toe hy die vermiste plaat ontdek. “Ons is deeglik geskrobbeer, amper die sak gekry,” het oom Henry gelag.
Hy het ook in dié tyd gereeld stories vir die SAUK op die Royal-tikmasjien geskryf wat altyd in die ateljee in Riebeekstraat gestaan het.
Na 1954 wou hulle hom verplaas, maar oom Henry was nie bereid om die Wes-Kaap te verlaat nie.
Hy het toe vir 25 jaar as ’n voedselinspekteur vir die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde (SABS) op die Weskus gewerk. Sy primêre rol was om inspeksies by die visfabrieke te doen. “Daar was só baie van hulle, nou is daar net ’n paar oor,” het hy hartseer gesê.
“Die industrie het self sy eie bronne vernietig. Dit is die moderne tegniek wat die pelagiese visbedryf seergemaak het.” Henry het in 1990 afgetree en in 1997 is sy eerste roman, Oog-Oog, gepubliseer.
Oog-Oog, die storie van ’n Weskus-vissersgemeenskap wat deur ’n vreemde onheil in die see gesteister word was ’n finalis in die Kwela, Engen en NMTV-skryfwedstryd in 1998. Henry woon vandag in Vredenburg saam met sy vrou Dalene. Sy seuns Hentie en Eknath Novella is bekende sakemanne op die dorp.
Henry%20Novella%20kortverhaal Henry Novella
Standard