Slat daai spraakterapeut met ’n papsnoek – dis ons geboortereg!

Vannie Kaap 2

(Ek leen hierdie sêding (bo) by Vannie Kaap se Facebook-blad. Dié mense weet hoe praat die Capies. Besoek hul by https://www.facebook.com/vanniekaap.co.za/ )

Ák en my mô gaan Kôp toe …
Nee, ek vloek jou nie. Lees dit gou weer, dié slag hardop. Nou klink jy soos ’n gebore Joh’burger. In die Weskus praat ons effe platter. Dis mos ’n local dêng en local is lekka, masekjênd!
Dan is daar dié van ons wat Velleghif sê in plaas van Velddrif. Slat daai spraakterapeut met ’n papsnoek! Brei is g’n spraakprobleem nie. Dis ’n Sandveller se geboortereg.
Ons smaak om te pghaat soes ons pghaat, want ons is vannie Kaap. En hier bedoel ek Kaapstad, die Weskus, die Suid-Kaap, die Noord-Kaap en veral die Namakwaland met sy innemende sêgoedjies en ráák beskrywings.
Elke Kaapse streek het sy eie manier van praat ontwikkel. Oor die dekades het Afrikaans, Engels en outentieke sleng-streektaal verstrengel geraak en hieruit is ’n interessante, kleurvolle, mengelmoes van ’n oppie-straat-kletstaal gebore.
Afrikaaps – soos die bekende teaterproduksie homself ook roep – is ’n goeie naam vir ons lekkerpraat-straattaal.
Dis ons erfenis en ons is soema rerag baie trots daarop.
En dis deesdae hoog mode, hoor. As die Gautengelengers kom kuier, loop koop hulle dadelik T-hemde en koffiebiekighs met Afrikaapse sêgoed op. Dis vir brêg om die braaivleisvure daar in Roodepoort.
Ons taal is outentiek, dis ougat en poenantjies, só eie aan ons, maar . . . O, bose bokkom! Onse mense kan nie spel nie. Dis veral die jong Weskus-kinnighs, gedurig op hul fone, wat sukkel om onderskeid te tref tussen formele taal – die manier hoe ons ’n ding skryf – en fonetiese taal – die manier hoe ons hom sê.
En dan is daar nog Facebook- en WhatsApp-taal wat die horries drie verdiepings hoog op my kop laat staan.
“Hri, wne km j n m hys tu? Huko j so stil?” Dís nou ’n literêre juweeltjie as jy ooit een gehoor het.
Ek wonder wat maak hy met al die tyd wat hy spaar deur sy woorde nie uit te skryf nie? Aikona! Dis lui, dis lelik en dis ’n lekker verskoning as jy nooit geleer spel het nie.
Maar laat ek nou maar nie ons gewone Weskus-brasse en -brassinne te kwaai oordeel nie.
Dalk kan ons die skuld aan die moderne digitale era gee. Kinders lees mos nie meer nie, kyk net prentjies en YouTube. Dit dáár gelaat, besighede wat per ongeluk (omdat hulle nie in Ingels kan spel nie) Afrikaaps op hul amptelike sake-korrespondensie of winkelvensters gebruik, kom baie onprofessioneel voor. ‘n Bekende winkel hier op onse Weskusdorpie adverteer gereeld op hul borde dat hulle petty pens en baby merrows verkoop.
A nee, a, man!
Dink net hoe lag die besoekers wat hier kom vakansie hou vir ons. Julle is ’n oulike winkel, maar koop asseblief ’n woordeboek. Of gebruik ten minste Google-vertaal, dit werk ook . . . meestal.
So ’n paar jaar terug het ons gaan eet by ’n oulike plekkie in Saldanha. Op die swartbord was die special van die dag, ’n seekos-platter geskryf met die volgende: Hake, 4 queen prawns, calamari, crap and chips.
Ek het eerder ’n kaasburger bestel, want as ek crap wou eet, het ek sommer my kind se vuil Kimbie nader getrek.
Advertisements
Standard

Oor depressie: My prinseskroon van dogtertjietyd is weg gesmyt en vertrap

prinses

Sommige mense praat van ‘n donkerte, maar vir my is dit eerder ‘n wasige, verlammende niksheid wat my stilletjies omsingel.

In my geestesoog is die niksheid ‘n digte, grys mis. Ek het nie meer perspektief nie, ek kan nie sien wat om my aangaan nie.
As ek om hulp roep, trek my stem nie ver nie. Niemand hoor my nie.

Dis onvermydelik, ek asem die niksheid in en dit verober my van binne af. In die wêreld stap daar nou net ‘n dop rond … ‘n dop wat glimlag en al die regte dinge sê. En ek dra ‘n masker, een met ‘n walglike glimlag daarop. Ek is weer ‘n robot-zombie, ‘n slaaf van die niksheid.

“Hoe gaan dit met jou?”, vra een wat nie regtig wil weet nie.

Kan haar seker nie blameer nie, sy het haar eie duiwels waarmee sy worstel.

Ek kan sien sy verwag nie eintlik ‘n antwoord nie, maar ek is tog so bly iemand vra na my.

In my gedagtes sien ek hoe my lippe die woorde vorm: help my! Maar die niksheid vreet die letters op voor dit klanke kan word.

“Goed dankie,” antwoord ek.

Ek lieg seker nie, ek het so baie om oor dankbaar te wees. So, word ek vertel wanneer ek durf om die waarheid te uiter. En elke keer as ek hoor ek moet dankbaar wees en ophou kla, glo ek nog so ‘n bietjie meer dat hoe ek voel nie saak maak nie … Ek moet stilbly, dit binne hou, want daar is uitgehongerde, sterwende kinders in Afrika.

Goed dankie maal deur my dowwe kop. Die woorde voel vreemd en vals. Ek gil saggies binne myself elke keer wanneer ek dit sê.

“Bly dit gaan goed,” reageer die een wat nie regtig wou weet nie.
Ek sien haar gedagtes is ook klaar elders.
Sy wil loop, het haar eie dinge om te gaan doen. Sy weet nie van die niksheid nie en ek gaan haar nie sê nie, al begeer ek dit.

Ek wil nog vra hoe dit met haar gaan, maar ek is nie lus om te hoor dat dit goed gaan nie, dat sy nie kan kla nie.

My walglike glimlag raak breër. Dis net spiere wat saamtrek, geen emosie daaragter.

“Nou maar toe, praat weer later,” sê ek. My arme honger siel ruk en klop verbete toe ek wegstap, want ek het myself weer verraai. Ek is ‘n gevangene in my lyf. Die niksheid verwurg my, maar dis nie ordentlik om te sê hoe mens regtig voel nie. En niemand hou van ‘n Jannie Jammergat nie.

My dae bestaan uit take en werk. Ek hardloop soos ‘n malding om die horlosie, ek sien niks meer om my raak nie.

Ek is ‘n marionet in die verveligste verhoogdrama ooit. Die niksheid het ‘n verbod op my vryheid van spraak, my denke en my verbeelding gesit. Ek smag na inspirasie… Ek het my mojo verloor.

My eens pragtige vlerke is geknip en hul het donker en dof in die hok geraak.

Die wêreld het my geleer om te konformeer en mooi op die lyn te loop. My prinseskroon van kindertyd is afgeruk en deur die ongenaakbare realiteit van die grootmenswêreld vertrap.

Ek sien nie meer gesigte in waterdruppels of diere in die wolke nie. Daar is nie meer magic in ‘n melkskommel nie. Waarheen het die nuuskierige dogtertjie met al haar idees, talente en drome gegaan?

Vir ander is depressie ‘n donkerte, vir my is dit ‘n verlammende, leë gevoel van niksheid…

Standard

Sprokiesliefde 38 jaar later

1660988_389044617902380_2028572680748036340_n 10478680_441195832687258_5423031305637694800_n
Net in die films …
Liefdesverhale soos Barry en Nicolene s’n klink amper soos ’n sprokie en mooi genoeg vir ’n romantiese draaiboek. Sleep die sneesdoekies nader, want dié ware verhaal bring hoop aan al die eensame siele wat glo daar bestaan vir almal op aarde ’n bestemde lewensmaat, opregte liefde en ewige geluk.
Nicolene Smuts (53) van Langebaan het nog altyd in ware liefde tussen ’n man en vrou geglo – ’n heilige band soos God dit wil hê – iets wat sy nie juis in haar verhoudings ervaar het nie. Sy was geskei en eensaam, maar nog steeds het sy vasgeklou aan haar geloof. Iewers op dié planeet, loop ’n man nét vir haar rond, die een wat nog altyd vir haar bedoel was.
Sy het verlede September besluit om ’n briefie aan die Here te skryf. Sy het hierin erken dat sy al baie foute in haar lewe gemaak het. Sy besef dat sy dalk haar ware liefde weens hardkoppigheid langs die pad misgeloop het. “Asseblief Here, as my ware Adam bestaan, bring hom na my toe.”
Sy het die briefie in haar Bybel gebêre by Genesis 2,18: “Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n metgesel maak, sy gelyke wat hom kan help.” Toe het sy op haar knieë gegaan en gebid.
In Desember 2013 is Nicolene se gebed verhoor. Barry Anderson (54), haar eerste kêrel, het haar toevallig op Facebook raakgesien. Hulle het begin gesels, ná ’n ongelooflike 38 jaar wat hulle geen kontak gehad het nie. Nicolene en Barry het mekaar as 15- en 16-jarige in die jeugsirkus ontmoet wat destyds deur die Kaap getoer het. Barry – ook geskei – was ’n sweefstokarties in die sirkus en Nicolene ’n sanger. “Ons was dadelik mal verlief op mekaar en het begin uitgaan. Dit was ’n diep opregte liefde, iets regtig spesiaal,” onthou Nicolene.
Ongelukkig het die twee jong verliefdes se ouderdom en omstandighede in daardie stadium gemaak dat hulle verskillende rigtings moes inslaan.
Nicolene het een foto van jong Barry gehad, wat sy veilig weggebêre het en oor die jare het sy dit soms uitgehaal, nostalgies geraak en gewonder wat van Barry geword het.
’n Week ná die Facebook-reünie, en verskeie sms-boodskappe later, het die twee afgespreek om mekaar in Langebaan te ontmoet.
Barry het onlangs aan Nicolene vertel dat hy baie senuweeagtig was oor dié eerste afspraak. Hy het gewig oor die jare aangesit en ’n paar plooie bygekry en was bang hy stel haar teleur, maar Nicolene was erg in haar noppies oor dié mooie man wat die Here vir haar gestuur het. “Toe Barry uit daai kar klim het ek geweet, my Adam het teruggekom.” Die res is geskiedenis, soos hulle sal sê.
Barry en Nicolene het in April vanjaar verloof geraak en trou op 16 Desember 2014 op die Impi-seiljag op die Langebaan-strandmeer. Daarna gaan hulle ’n groot makietie by Mykonos se Terrace hou.
Nicolene sê sy het die briefie aan Barry gewys en hy het toe met trane in sy oë gesê,“ek kan weer regop loop want my rib is nou terug.”
Standard

Sosiale vlinder se goue jare – een groot fees

Tobi en Rita 1
“Ek gaan nie begin hekel en vir Avbob sit en wag nie.”
Rita Boshoff (80) van Jacobsbaai lag oor haar stelling, maar sy maak beslís nie ’n grap nie. Dié joviale sosiale vlinder in haar goue jare is nog glad nie lus vir afkoel nie.
Rita was nog altyd ’n vrou wat haar omring het met bekendes. Sy is ’n gasvrou van formaat en ’n partytjie-organiseerder soos min. Voordat sy Weskus toe getrek het, was sy in Mpumalanga bekend vir haar tema-verjaardagpartytjies en lekker saamkuier-okkasies by haar huis op die plaas Rietvlei, saam met Jannie Moolman, Kevin Leo, Anna Davel en talle ander.
Tobi Jooste is een van haar gunstelingkunstenaars en sy het hom herhaaldelik na gesellighede genooi. Oor die jare het dié twee ’n spesiale band ontwikkel.
Met Rita se aankoms aan die Weskus twee jaar gelede was sy ietwat depressief. Sy was bang sy kry nooit weer die geleentheid om partytjies te reël of skouer te skuur met bekendes nie. “Dit was ’n groot kopskuif om te trek, maar ek’s nie spyt nie,” vertel sy.
Die Weskus het haar verwagtinge oortref. Sy het by al wat ‘n organisasie is aangesluit en hope nuwe vriende gemaak. Sy en haar nuwe Weskus-pelle is almal jonk van gees en geniet uitstappies en nuwe uitdagings.
Daar waar ’n glansgeleentheid en celebs is, dáár is Rita. Met haar 80ste verjaardagpartytjie by die gastehuis Klokkiebosch in Jacobsbaai – wat ómtrent ’n uithangmakietie was – het haar goeie vriend, die bekende sanger, Tobi Jooste, spe­siaal vir haar kom sing as blykie van waardering vir haar ondersteuning.
’n Aangedane Rita vertel dat Tobi se oorlede ouma dié jaar 80 sou geraak het. Hy het vir Rita kom sing omdat sy ’n spesiale plek in sy hart het en soos ’n ouma vir hom is.
Die 80-mylpaal is nog net die begin vir haar. Sy sien uit na baie ander partytjies saam met glanspersoonlikhede. “Dis my passie!” Sy sien die lewe as een groot fees wat ’n mens elke dag ten volle moet aangryp.
Standard

Koslektor bereik gastronomiese hoogtes

CIndy Menigo
Honger?
Hoe lyk dit met sappige kwartel en lemoensous? Ontbeende lam gevul met basiliekruid en salami, wat bedien word met botterskorsie-gnocchi, ’n geroosterde tamatiesous en groente? Dié ete word dan afgesluit met ’n kersie- en gemmer-sjokolade-mousse, soet beet, beet-meringue, framboossous en wit sjokolade- krummels.
Dié is ’n droomkos-ervaring vir enige kosliefhebber en was ook ’n reuse-uitdaging vir plaaslike kykNET Kokkedoor-finalis Cindy Menigo. Cindy, koslektor by Weskus Kollege se kampusse in Malmesbury en Vredenburg, is een van net vyf finaliste in die Wes-Kaap wat op Vrydag 1 Augustus 2014 aan Unilever se Sjef van die Jaar-kompetisie in Kaapstad deelgeneem het. Sy het net drie ure gehad om dié innoverende spyskaart uit te dink en ál die disse voor te berei. “Die kompetisie was straf,” sê sy, maar sy hou styf duim vas dat sy gekies sal word om aan die nasionale ronde in Johannesburg deel te neem. R25 000, ’n jaar se Unilever-ambassadeurskap en dubbelblad-dekking, sowel as voorbladdekking in die gewilde Chef Magazine.
Cindy wag in spanning op die beoordelaars wat binnekort hulle besluit sal maak. Sy sê haar Kokkedoor-blootstelling het beslis haar loopbaan ’n hupstoot gegee. Haar skielike status as TV-sjef help ook om haar studente by die kollege te motiveer oor hulle toekomstige loopbane. Cindy is ook die naaswenner in 2014 se nasionale Baking Masters-kompetisie.
 Cindy 1 IMG_18393359261702 IMG_245883766881126 IMG_431103293506033
Standard

Bok-fan uit die Ooste gooi Afrikaans

James Song
Chinese hou van kung fu, chow mein en tegnologie.
Wat ’n cliché!
Suid-Afrikaners kyk almal rugby en braai elke Saterdagaand. Stereotiep? Sowaar!
Twee afgesaagde beelde, voosgery al die pad tot by die groot muur in China en terug na die Kaap waar die mammies – voortande skoonveld – op hul hakke loop.
Maar wat van ’n Afrikaanssprekende Chinees in ’n Springbok-rugbytrui? Ah! dink ek toe ek nader stap. Dís mos nou ’n kleurvolle mens waaruit besonderse leesstof geskep kan word. Maar wag, laat ek voor begin.
Ek het James (Dazhi) Song (32) die eerste keer in sy winkel by die Ipic-sentrum in Vredenburg gesien.
Ek was besig om rond te krap tussen die fieterjasies en kitsch ornamente, toe Kaptein Kurt Darren met sy strelende stem die seile oor die winkel se luidspreker begin span. Ek is pienk getiekel. Ek loer om die rak en sien ’n aantreklike jong Chinese man agter die kasregister staan. Kort geskeerde hare. Sagte, deernisvolle oë wat net so effens in die hoeke optrek. Hy is geklee in ons patriotiese groen en goud. Daar’s ’n springbokkie op sy bors en hy help sy kliënte – tot die beste van sy vermoë – in pragtige gebroke Afrikaans. Nou is ek eers beïndruk.
Ek gaan stel myself voor en ons skud blad.
James vertel my dat hy sewe jaar gelede van Hun Chun in China na Kaapstad getrek het. Hy het in ’n rugby-aandenkingswinkel naby Nuweland gewerk en dis hiér waar die rugby-gogga hom behoorlik gebyt het. Hy is so gek oor Suid-Afrikaanse rugby dat hy drie Springbok-rugby­truie in sy kas het. Hy trek hulle gereeld aan.
James en sy swanger vrou, Lee Chen (30), woon deesdae in Langebaan en hulle geniet die Weskus se unieke karakters en die rustige plattelandse leefwyse wat hulle op dié dorp ervaar.
James wil só graag die Blou Bulle in lewende lywe sien speel.
Hy fluister dié taboe-ding aan my, want hy weet hy is in Stormerland.
Die puntjie van sy tong loer by sy ondeunde glimlag uit en sy oë flits deur die winkel – net om seker te maak ’n emosionele Stormer-fan het hom nie gehoor nie.
Ek vra oor die Afrikaanse musiek en hy pak ’n hoop CD’s op die toonbank uit. Een van sy werknemers het hom aan dié musiek voorgestel. Hy is veral lief vir Leon Schuster se liedjies oor rugby. Op ’n vals noot trek hy spontaan weg met ’n entoesiastiese: “Bokke! Bokke!” Hy slaan die lug opgewonde met sy vuis.
James en Lee sê hulle ongebore kindjie sal hiér skoolgaan. Hulle is natuurlik baie trots op hulle eie Chinese kultuur, so hulle kind sal beslis Chinees leer praat, maar ook Afrikaans en Engels. Dogtertjie of seuntjie?
James weet nog nie en verkies om eerder verras te wees wanneer sy kleintjie gebore word. Weens die een-kind-per-gesin-wet wat tot onlangs nog in China gegeld het, was dit onwettig om die geslag van die fetus te weet.
James is gek oor die unieke Afrikaanse kultuur en die taal. Hy werk elke dag aan sy woordeskat en hoop om eendag Afrikaans vlot te kan praat.
Dié man verdien erkenning vir sy toegewydheid aan Afrikaans want as ek Kombuis se woorde mag leen; “Ons wat die taal gooi, verdien om raakgesien te word deur die res van die planeet!”
Standard

Pitkos vir my siel uit die Weskus, padkos vir môre …

Weskus 1

Hiér is iets wat ek lank terug geskryf het, in ‘n tyd wat my lewe redelik omgekrap was. My eerste reaksie toe ek die stuk vandag weer lees? Ek wou dadelik my redakteurhoed opsit en aan die ding begin krap. Maar toe onthou ek Esta Steyn se woorde nou die dag aan my toe sy haarself in ‘n soortgelyke situasie bevind het. “Ek kon dit net nie aan die meisie doen wat daardie stories geskryf het nie.” Daarom moes ek myself ook keer – met die uitsondering van ‘n sinnetjie hier en daar – want dié stukkie skryfwerk is ‘n kykie in my gebroke hart van gister. Dit is opreg. Dit is eerlik. Ek skryf nie meer so nie, maar ek mag nie aan dié stuk werk torring nie. Kusjka du Plessis het die pragtige foto’s verskaf. Besoek gerus http://kk-photography.com/author/kusjka/

Ek was nie hiér gebore nie, maar dis my plek dié. Ek was bestem vir die Weskus. Ek is oortuig my voorvaders en -moeders het duisende jare gelede hier op die Weskus gewoon. Hoe weet ek dit? As my kantoorvoetjies seerkry op die swart mat van stukkende mosselskulpe, die blinkblou hemel my verblind en daardie vars verrottende seewierreuk my oorweldig weet ek, ek het terug huistoe gekom. My Weskus is meer as net ‘n gevoel dat ek hiér hoort. Die plek praat met my in ‘n taal wat ouer is as Van Riebeeck se tyd toe Saldanhabaai ‘n veilige hawe vir skepe in nood was, selfs miskien ouer as die tyd toe net die Khoi die Weskus geken het. My Weskus praat ‘n oertaal met my en sy praat saggies. As jy nie mooi luister nie, sal jy haar nooit verstaan of waardeer nie. Ek voel deel van haar en wanneer ek op haar ongerepte strande loop en oor glibberige, grys gladde rotse klouter na vergete baaitjies, my voete steekpyne kry van die yskoue donker water, voel ek naby aan haar.

My Weskus voel ewig en tyd verloor sy betekenis. Sy is deel van haar mense en van my, sy is verweef in my selle, bloed en gees. Sy klop diep binne in my. My Weskus is my inspirasie as ek vaal, leeg en onoorspronklik voel. Sy is kleur as jy dit net wil sien. Sy is die mooiste, delikaatste geel of pers blommetjie in eindelose suidoos-verwaaide vlaktes. Sy is die kaalvoet-kind in my, my onthou aan lekkerte, liefde en seerkry. Haar smaak is onvergeetbaar uniek en plat op die aarde. As jy haar eers ken, sal jou hart jou altyd terugbring.

Soms as dinge verkeerd voel, as die boksie square is en ek is rond, kan ek net buite in die veld, op die grond, in die stof, tussen die goggatjies en Fynbos myself weer vind. Niemand is soos ek nie en ek kan nie help om te voel dat ek iewers iets mis nie, maar my Weskus laat my altyd weer deel voel van ‘n groter gedagte. Daar is miskien tog ‘n doel in al hierdie chaos wat ons die lewe noem. Daar is hoop dat elke mens se lewe betekenis het, dat almal iets spesiaal het om by te dra.

Die dag toe ek kwaad en ontstoke op die strand myself gaan vind het, sien ek die onreëlmatige golwe, swart en massief wat die ruwe kus met woede tref. Só hard soos donderweer. En ek weet, ek en my Weskus is vandag pragtig in harmonie. Sy laat my toe dadelik rustig word, want ek weet, dis beautiful hier en dis mý plek.

‘n Stemmetjie diep binne my sê: Wat jou nie dood maak nie, maak jou sterk. ‘n Swart Suid-Oos druk my al regser en laat my oë traan, of dalk was dit my hart se trane. Kan nie onthou nie. Ek het ‘n boemelaar in Velddrif ontmoet daai dag. Miskien was hy gestuur om my te laat besef dat ek eindelose blessings het. Ek was te moeg om op te staan toe hy langs my kom neerval. Wat ‘n openbaring toe ek besef dat hier waar ons sit – ons nie veel anders is nie, ook maar net mens. Weskus se verlore kinders. Hy soek na sy seun. Sy vrou is oorlede en hy het sy lewe weggesuip.

Ek het gesien hoe vang ‘n man ‘n vis en al was dit ‘n kleintjie, was die opgewondenheid in sy oë iets wat ek ook met my hele hart begeer. Alweer ‘n les dat klein dingetjies die belangrike goeters in die lewe is. Dís nou die stuff waaroor ons eintlik moet bly raak.

Al gesien hoe sielsgelukkig is ware Weskussers? Hulle verstaan die see. Hulle snap die lewe. Hulle stres nie oor die klein k**kies nie – Ekskuus my Weskus-Frans!

Ek was nie hiér gebore nie, maar dis my plek dié. Ek is seker my voorvaders was ware Weskussers en dis waarom ek weer hier beland het. Dis my plek. Dis my siel se plek.

Elke dag luister ek na haar en ek ruik haar varsheid. Haar ongelooflike sonsonsondergange en semi-woestyn-horisonne is niks minder as die mooiste mooi nie. Sy leer my iets nuut oor die lewe elke dag en as ek ‘n goeie student is, sal ek ook beloon word met ware Weskus kaalvoet-happiness.

Weskus 7 Weskus 6  Weskus 4 Weskus 3 Weskus 2

Standard